Fyftig skakerings van boeke by Fora
'n Verskeidenheid van boeke is by die Friends of Rescued Animals (Fora) se boekwinkel te koop.
Dit blyk of die Fifty Shades of Grey-fenomeen Krugersdorp ook getref het.
By die Friends of Rescued Animals (Fora) se boekwinkel in Vierdestraat (reg langs die Bonanza Spar) is daar ‘n stel van dié boeke te koop wat handel oor die iewat warm verhouding tussen die karakters Anastasia Steel, ‘n gegradueerde en ‘n jong besigheidsmagnaat Christian Grey.
Hoewel hierdie boeke heel moontlik vinnig opgeraap sal word, hoef boekwurms wat daarvan hou om hygromans te lees nie bekommerd te wees nie, aangesien ‘n hele tafel vol titels soos, onder andere, One night of love, Nothing but scandal en Tempted by the night beskikbaar is.
Julie Wasserman (winkelbestuurder) het gesê hierdie is maar net van die boeke wat by die boekwinkel te koop aangebied word.
“Daar is eintlik ‘n verskeidenheid van boeke vir elkeen se smaak.”
In die kinderafdeling is daar stapels boeke van die bekende kinderboek skrywer Enid Blyton, wie se boeke sowat 70 jaar gelede topverkopers was nadat meer as 600 miljoen eksemplare gedruk is. Vandag is hierdie boeke, ook gesogte versamelstukke, reeds in 90 verskillende tale vertaal.
Op ‘n rak naby aan die toonbank waar Julie daagliks boeke verpak is daar ook volwasse gunstelinge deur Jeffery Deaver, Danielle Steel, Marita van der Vyfer en Deon Meyer om net op te noem.
By die ingang sal ‘n mens gesondheidsboeke kry wat jou op die regte dieëtplan sal hou, die regte kosse vir die regte voedingsinname asook ‘n verkseidenheid van ou tydskrifte.
Julie het gesê die gemeenskap word aangeraai om steeds die boekwinkel te besoek vir lekker leestof winskopies en ook om aan te hou boeke skenk, want dit is al manier hoe hulle kan aanhou om die diere by die dierehawe van ‘n beter lewensgehalte te kan voorsien.
“Ook ons klere en verskeidenheidswinkel oorkant die pad maak staat op gereelde skenkings en donasies, sonder die gemeenskap se hulp kan ons nie bly voortbestaan nie.”
Vir boekwurms wat met ander boekwurms in verbinding wil tree en oor die boeke wat hulle reeds gelees het, met ander wil deel, word hulle uitgenooi om die Boeke-aand op 27 Maart by te woon.
Bywoning moet vooraf met Julie gereël word deur haar by 076 771 5480 te kontak.
