Local newsNews

Wat is nou eintlik “in die lug”?

Sommige kundiges sê daar is waarheid in die gesegde.

Hoe dikwels het jy al gehoor “daar’s iets in die lug,” as almal lopende neuse of omgekrapte mae het?

Die News het gaan ondersoek instel of daar waarheid in hierdie gesegde steek.

Volgens WebMD staan ‘n siekte wat deur ‘n patogeen veroorsaak word en deur die lug versprei word, as ‘n luggedrae siekte bekend. Díe patogene kan virusse, bakterieë of swamme wees wat deur die lug van mens tot mens beweeg.

Die vraag bly staan – is dit werklik in die lug?

“Nee,” verduidelik dr DW Steyn van die Medicross-kliniek in Krugersdorp.

“Deeltjies in die lug word met die patogene gelaai en versprei dan so,” sê hy.

WebMD verduidelik dat luggedrae siektes nie stof en gifstowwe insluit nie, maar dat lugbesoedeling wel lugweginfeksie veroorsaak wat die liggaam gevolglik vatbaar vir luggedrae siektes maak.

Toe die News Steyn vra oor oormatige hitte en hoe dit met luggedrae siektes verband hou, het hy geantwoord dat die liggaam nie altyd kan aanpas by wisselende temperature nie, gevolglik verswak jou weerstand teen luggedrae siektes.

Steyn bevestig dit wat ons al talle kere by ons ouers gehoor het.

“Ja,” antwoord hy, “jy moet nie in die wind staan of in die reën loop nie.”

Steyn het ook ‘n interessante teorie oor hoe luggedrae siektes versprei.

“Stof dien as ‘n draer. ‘n Siek mens nies of hoes en laai dan die lugdeeltjies en stof met die patogeen. Wanneer dit reën, sak die stof af grond toe waar die nat toestande die patogeen langer laat leef. Wind tel weer die stof op en dra dit verder, waar iemand anders aangesteek word deur dit in te asem,” verduidelik hy.

‘n Verkoue of omgekrapte maag is hoogs aansteeklik, maar kan voorkom word deur ‘n sterk immuunstelsel te bou.

“Hoekom dink jy luister ons na ‘n pasiënt se asemhaling teen sy of haar rug? Ons kan net so vinnig siek raak as die persoon hoes of nies,” skerts Steyn.

Die News vertrou dat sy lesers gesond sal bly wanneer die seisoen in Maart begin draai.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button