Totsiens aan ‘n ware legende
Krugersdorp sê totsiens vir 'n legende wat met Arnold Schwarzenegger en Lance Armstrong skouers geskuur het.
Vriende en familie het onlangs vir ‘n gesoute Krugersdorper en legende finaal totsiens gesê.
Johnny Esmany, ‘n entrepeneur wat die eerste gimnasium in Krugersdorp geopen het, het op 7 Maart sy stryd teen kanker verloor.
Deur die Kings gimnasium het Johnny skouers met legendes soos Lance Amstrong en Arnold Schwarzenegger geskuur met die skiet van die film Pumping Iron in 1977.
Soos baie ander het Johnny in die grensoorlog gedien en vir beide Suid-Afrika en Isreal in die weermag verteenwoordig en presteer.
“Ek is ou Krugersdorper wat hom vir meer as 50 jaar geken het. Wat ‘n wonderlike mens. Sonder sy vriendskap was my lewe armer,” vertel ‘n lewenslange vriend Leon Wessels.
Die Krugersdorpse sportlegende het ook op die rugbyveld uitgehardloop vir die Wes-Rand Rugbyspan.
Nadat Johnny die gimnasium se deure toe gemaak het, het hy ‘n sjokoladefabriek geopen wat vir vele spoggeleenthede soetgoed voorsien het.
Hy het sy lewensmaat, Isabel du Preez, sowat agt jaar gelede in Krugersdorp raakgeloop waar hulle vriendskap in ‘n pragtige verhouding ontwikkel het. Die paartjie het vier jaar gelede besluit om na Stilbaai te verhuis.
“Hy het dit vreeslik geniet om fiets te ry en te roei op die rivier,” onthou Isabel.
‘n Herdenkingsdiens was vir Johnny by Krugersdorp High School op 19 Maart in die skoolsaal gehou.
Hy was as ‘n ware entrepreneur beskryf en het talle vriende en ondersteuners opgebou as ‘n liggaamsopvoeding onderwyser, ‘n gymnasium instrukteur en ‘n besigheidsman.
Op 31 Maart sou hy sy 70ste verjaarsdag gevier het.
“Hy het so ‘n goeie sin van humor gehad en was bekend vir sy pragtige blou oë en betowerende glimlag,” vertel Isabel.
Op sy versoek was Johnny veras en Isabel het dit op hulle gunsteling plek, die Goukou Rivier, gaan strooi.
“Ek verlang verskriklik na Johnny, hy was nie alleenlik my oefenmaat nie, maar ook my lewensmaat.”
