Fees gehou om 20 jaar se bestaan te vier
'n Hele naweek van pret, kuier en lekkernye was die orde van die dag tydens 'n Vreugdefees.
Die bibberende weer wat die naweek oor Krugersdorp kop uit gesteek het, het die bejaarde inwoners van die Panorama Landgoed nie afgeskrik nie.
‘n Hele naweek van pret, kuier en lekkernye was die orde van die dag tydens ‘n Vreugdefees wat gehou is om die 20 jaar van die Landgoed se bestaan te vier.

Verskeie aktiwiteite is gehou soos mini gholf en jukskei kompetisies sowel as ‘n pretloop vir diegene wat lus was om die bene weer vir ‘n slag te rek.
‘n Orkes het die musiek verskaf terwyl boerewors op die kole gebraai en boereworsrolle wat daarna verkoop is.
Amanda Venter, bestuurder van die Landgoed wat sowat 650 inwoners huisves het gesê die laaste soortgelyke fees is 10 jaar gelede gehou.
“Dit is altyd lekker om so ‘n fees te reël en dan terug te kan kyk oor al die suksesse wat ons deur die jare behaal het. Dit is ook iets anders wat die inwoners se daaglikse roetine so ‘n bietjie verander.”

Yvette Hattingh van Apbco Makelaars het gesê hulle het ook as borg betrokke geraak en die inwoners met ‘n ete bederf.
“Ons het baie kliënte in die oord en het daarom besluit om as deel van ons jaarlikse gemeenskapsuitreikaksies iets aan al die inwoners terug te gee, want dit is so maklik om van hulle te vergeet.”
Sy het gesê dit was ‘n dag waar die inwoners weer saam met hulle families kon wees en op ‘n prettige manier dit saam met hulle te spandeer.
Jackie Bothma, sentrumbestuurder van NHC Honeydew het ook verskeie pryse vir die dag geskenk wat aan die inwoners na afloop van die pretloop uitgedeel is.

Yvette het gesê daar is ook nagenoeg 100 kospakkies aan behoeftige inwoners uitgedeel.
“Ons wil almal bedank wat die dag moonlik gemaak het,” het Amanda gesê.
