BlogsLocal newsNewsOpinion

‘n Wandeling met die dooies

Die atmosfeer binne die begraafplaas is grys en somber; en dit is tog te verstane – dié is die finale rusplek vir talle mense wat gedurende Suid-Afrika se hartseerste tydperke geleef en gesterf het.

Wie is lus vir ‘n uitstappie?

Só het ek skielik en sonder om te dink op die Facebook-groep Krugersdorp Network Community gevra oor wie sou belang stel om op ‘n Sondag – en spesifiek om 12nm – deur die geskiedkundige Burgershoop Begraafplaas te gaan stap.

En soos verwag was die terugvoering nie heeltemal na wense nie.

Dit is seker omdat ek dit in ‘n dag wou reël; miskien is dit net nie die tipe uitstappie wat ‘n mens met ‘n piekniekmandjie onder ‘n eikeboom sal assosieer nie (al het die begraafplaas ‘n paar – ek sê maar net), of miskien net omdat dit ‘n Sondag is?

Helaas, die Erasmus-gesin laat weet toe dat hulle graag die begraafplaas saam met my wil gaan verken.

“Ons kinders moet die geskiedenis van ons land ken,” het sy op Facebook aan my geskryf en so is dit dat hierdie storie die naam: ‘n wandeling met die dooies gestand doen.

Ek arriveer klokslag om 11.30vm sodat ek hulle kan verwelkom. Die atmosfeer binne die begraafplaas is grys en somber; en dit is tog te verstane – dié is die finale rusplek vir talle mense wat gedurende Suid-Afrika se hartseerste tye geleef en gesterf het.

Elke hoek van die begraafplaas het ‘n storie op sy eie – van soldate wat in die Anglo-Boereoorlog, sowel as die Eerste en Tweede Wêreldoorloë gesneuwel het, tot die vroue en kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog in konsentrasiekampe dood is.

Dan is daar ook die talle kindergraffies en die woorde op elkeen se grafstene laat ‘n mens met ‘n hartseer gevoel.

In ‘n klein kamertjie by die ingang bly Jannie de Beer en sy lewensmaat Ella Ellis reeds vir meer as nege jaar. Dan hoor ek gou hoe hulle omstandighede verander het vandat ek laas geskryf het oor die troeteldiere wat hulle moet versorg wat gedurig by die begraafplaas afgelaai word.

Jannie de Beer, een van die inwoners en selfaangestelde 'opsigter' van die Burgershoop Begraafplaas kyk hier na Willem Willemse se blyplek.
Jannie de Beer, een van die inwoners en selfaangestelde ‘opsigter’ van die Burgershoop Begraafplaas kyk hier na Willem Willemse se blyplek.

“Hulle het my vrou se regterbeen afgesny,” verduidelik Jannie. Haar linkervoet is lankal reeds geamputeer.

“En nou wil die munisipaliteit ons weer uit hê.”

Soos ons gesels let ek op hoe Willem Willemse, nog ‘n begraafplaas bewoner ook sy linkerbeen kwyt is en al sukkelend oor die grasperk op sy boude aanskuif.

“Gangreen,” hoor ek hom sê, “So toe kap hulle my been af, sommer net so.”

‘n Spinnekop het in sy skoen geklim en hom op die kleintoontjie gebyt.

Hy bly in ‘n skuiling van swart plastieksakke, kartonbokse en die blare van ‘n palmboom direk langs verskeie grafte.

Met die eerste oogopslag lyk die skuiling self soos ‘n graf – eintlik ontstellend.

Teen 12uur die middag ry ‘n Volkswagen Golf die begraafplaas binne. ‘n Man, vrou en ‘n kind – dit moet vir seker die Erasmus gesin wees.

Ek keer hulle gou voor, groet vir Jannie-hulle en vaar tussen die grafte in.

Onmiddellik dwaal die gedagte dat elkeen ‘n storie het wat opnuut lewe moet kry en van die interessanter grafte, of dié wat vir my uitstaan begin ek van foto’s te neem.

Die gedenksteen wat opgerig is vir die vroue en kinders wat gedurende die Anglo-Boere Oorlog gesterf het lees: "Vir vryhied en vaderland ter ere van die moeders en kinders omgekom in Krugersdorp konsentrasiekamp 1899 - 1902."
Die gedenksteen wat opgerig is vir die vroue en kinders wat gedurende die Anglo-Boere Oorlog gesterf het lees: “Vir vryhied en vaderland ter ere van die moeders en kinders omgekom in Krugersdorp konsentrasiekamp 1899 – 1902.”

Dit gebeur toe dat ek wasgoed op een van die muurtjies sien hang en my natuurlike nuuskierige neus lei my toe na Corrie Havenga, Hans van Staden, en Albert Swarts en sy lewensmaat Maria Barnard.

“Ons bly maar hier, al vir maande,” het Hans vir my in ‘n sukkelstem gesê.

“Trokongeluk,” verduidelik hy oor waarom hy moeilik praat, “en nou sit ek net met ‘n halwe long.”

Hy steek nietemin sy sigaret aan.

“Ons kry maar swaar, niemand wil ons in diens neem nie. Ek is glo té gekwalifiseerd,” het Corrie gesê wat glo ‘n gekwalifiseerde masjienmonteur is.

“Daar is net beloftes.”

Hans steek sy hand na my uit en begin sy horlosie afhaal.

“R20 en dié horlosie is joune,” en ek sien daardie hoopvolle blik in sy oë wat toe gou geblus is toe ek sê ek kan dit nie aanvaar nie.

Hy plaas die horlosie met sy leervoorkoms weer op sy bruingebrande arm terug.

Ek kyk vir oulaas nog rond voordat ek weer met die Erasmus-gesin herenig.

Die weer is ook besig om stadig op te kom en ons stap nog ‘n rondte deur die grafte deur voordat ons groet.

“Laat weet ons as jy weer so iets beplan,” laat weet hulle my en ek sien hoe die wit kar verby die begraafplaas se hekke verdwyn terwyl ek nog ‘n paar laaste foto’s van die grafte neem.

Soos ek in my kar klim en die reën druppels op die voorruit val, kan ek nie anders dink oor hoe bevoorreg ek is om skuiling soos dié te kan hê en vanaand omring deur lewendes my kop op my kussing kan neerlê nie.

Met ‘n swaar hart besef ek net weer dat almal nie so gelukkig is nie.

Die volgende ‘uitstappie’ is beslis oop vir bespreking. Gaan los jou voorstel deur kommentaar te lewer in die boksie onder.  Jy my kan my ook op Facebook, Twitter en Instagram kry.

FacebookTwitterInstagram

 

Gerritjie Budding, 39, vrou van Dirk de Vries en hul een maand oue seuntjie Dirk Camper de Vries is 120 jaar gelede hier te ruste gelê.
Gerritjie Budding, 39, vrou van Dirk de Vries en hul een maand oue seuntjie Dirk Camper de Vries is 120 jaar gelede hier te ruste gelê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button