Local newsNewsUpdate

Man wat in vakansiedorp val sterk aan

Hy sal nog vir ses weke lank in Plettenbergbaai moet bly voordat hy en sy vrou terug na Krugersdorp sal kan gaan.

Dit gaan beter met Jan Vorster, 78, wat verlede week tydens ‘n ongeluk in Plettenbergbaai beseer is toe hy gegly en van die kranse afgeval het.

Sy vrou Martie het aan die News gesê hulle sal vir meer as ‘n maand nog in dié vakansiedorp moet bly voordat hulle daaraan sal kan dink om terug na hul huis in Krugersdorp te keer.

“Ons gaan hier by my skoonsuster bly vir sowat 6 weke omdat my man nie baie mag beweeg nie en die dokters het ook genoem dat terugvlieg huistoe taboe is.”

Die egpaar was met vakansie toe die ongeluk gebeur het. Jan het saam met twee ander stappers wat hulle by tydens hulle vakansie ontmoet het die wandelpaadjie van die Robberg Natuurreservaat gestap toe hy gegly het.

“Ek kan net dankie sê dat daar mense was wat by was toe die ongeluk gebeur het, want as dit nie daarvoor was nie, is ek nie seker hoe dit sou uitgedraai het nie,” het Martie verlede week gesê.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en paramedici van Med-Life ambulansdienste is na die toneel ontbied.

Martie het gesê al is haar man steeds in konstante pyn en al gaan die herstel proses nog ‘n ruk duur toon hy reeds ‘n verbetering.

“In die begin wou hy met niemand praat nie en nou kan hy weer nie ophou praat nie. Hy bel weer almal en volg selfs die rugbywedstryde op die TV.”

Hy het agt ribbes beseer, waarvan een gesplinter en die ander gebreek is. Dit het daartoe gelei dat ‘n longvlies geskeur is. ‘n Sleutelbeen is ook tydens die ongeluk gebreek.

“Die dokters het dit oorweeg om te opereer, maar het toe daarteen besluit. Die dokters gaan eerskomende Donderdag weer plate neem om na sy longe te kyk.”

Martie kan nie uitgepraat raak oor die goeie diens wat hulle van die NSRI en die mediese personeel tot dusver ontvang het nie.

“Ek kan almal nie genoeg bedank vir hulle aandeel in die gesondheid van my man nie. Die dokters is veral beïndruk met sy vordering en sê hy was ‘n baie soet pasiënt, maar my man sê weer hy moes wees as gevolg van die pyn wat hy verduur het,” het sy gelag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button