Veg teen die kouekloue
Die Sektor 5 GPF veg nie net teen misdaad nie, maar ook teen die koue hierdie winter.
Die winter het uiteindelik sy kloue in Krugersdorp ingeslaan, maar die Sektor 5 Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) baklei terug.
GPF-lede het nie verlede week hul normale patrollie gedoen nie. In stede van ’n soektog na boewe het hulle eerder na minderbevoorregte gemeenskapslede gesoek wat die bitter koue weerloos in die oë staar.

Patrolleerders het van die begraafplaas, tot naby die polisiestasie die strate op en af gery op soek na straatlopers en haweloses.
Komberse, serpe, toiletware en selfs ’n warm koppie koffie is aan dié minderbevoorregtes gegee.
Sondag 7 Junie het die lede ’n tweede maal die strate ingevaar, nie net vir bewusmaking nie, maar om verdere skenkings te doen wat die sektor ingesamel het.
“Sektor 5 is die beste in die Weste,” het Deon Steyn, GPF Sektor 5-woordvoerder aan die News gesê.

