Die mooiste huis in die dorp
Jy stem dalk nie saam nie, maar Pierre en Bokkie Eksteen glo hulle huis van 60 jaar is die mooiste woning in Krugersdorp.
Dit mag dalk nie die oudste of mees gedetaillieerde huis in Krugersdorp wees nie, maar die Eksteens glo dat die plek wat vir 60 jaar lank geluk gehuisves het, is die mooiste plek in die dorp.
Pierre en Bokkie Eksteen het in 1955 hulle ‘paleis’ Krugersdorp-Noord gebou. Pierre vertel dat dit die tyd was toe Krugersdorp-Noord nog ‘n here-erf was wat deel van ‘n plaas was.
Die totale koste waarteen die huis gebou is was £2 850; in vandag se randwaarde, ’n R42,80 per maand terugbetaling vir Pierre.

Die Eksteens het hulle drie kinders, twee seuns en ‘n dogter, in hierdie huis grootgemaak.
60 jaar na die bou van die huis, trek Pierre en Bokkie toe uit na ‘n kleiner woning in Panorama Landgoed.
“Dit was vir my vreeslik moeilik om die huis agter te laat. Ek het self die bakstene waarmee die huis gebou is, aangery,” vertel Pierre.
Susan Steyn, saam met haar man en sesjarige dogter, het vier weke gelede na hierdie huis toe getrek.
“Ons voel vreeslik geëer om in die huis te kan bly en sal hom goed oppas,” verseker Susan.

Bokkie vertel dat die mooiste vertrek van die huis die kombuis is. Volgens haar is dit nog ‘n lekker groot plaaskombuis waar die familie gereeld bymekaar gekom het.
Pierre dink liewer die beste eienskap van die huis was die gelukkige herinneringe wat saam met die tuiste gepaard gaan.
Bokkie onthou nog hoe hulle elke jaar appelkooskonfyt van die 96-jarige appelkoosboom in die agterplaas gemaak het.
“Ons vriende het ook gereeld van die appelkose kom pluk,” sê sy.
Pierre vra aan Krugersdorp of daar nóg inwoners is wat so lank hier gehuisves is?
Laat weet die News deur kommentaar onder aan die storie te lewer.

