[FOTO’S] Ouetehuis-optrede onder die bome
'n Hoërskool-leerling het besluit om die bejaardes van Pionier Tehuis te bederf.
Die kinders van Krappies Naskoolsentrum het gesorg vir lekker dans, sing en lag by Pionier Tehuis op 6 Oktober.
Te danke aan Bernadine Graham, ’n vasberade Graad 11-leerling van Hoërskool Noordheuwel, het omtrent 80 bejaardes weer gelag en gesing.
“Ek weet hoe eensaam dit soms raak vir die bejaardes wat hier bly. Ek wil hê hulle moet weet daar is nog iemand wat aan hulle dink,” het Bernadine gesê.
Aletta Rheeder van Krappies het vir die vermaaklikheid gesorg deur die naskoolkinders en Aeroton Bakery bymekaar te bring vir ’n optrede.
Die naskoolkinders het handgemaakte kaartjies aan die ou mensies uitgedeel. Die bakery het vars broodrolletjies aan die tehuis-inwoners gegee, maar nie sommer verniet nie.
“Elke bejaarde moes eers ’n kind nomineer om op die verhoog op Jay se Superhero te dans,” het Aletta verduidelik.
Bernadine, wat ook die verhoog aangedurf het, voel sy het ’n verskil, hoe klein ook al, in die bejaardes se lewens gemaak.
“Ek voel ek moet iets doen vir hulle. Hulle moet ook kan lag.” vertel Bernadine.
Bernadine word beslis nie teruggehou oor sy nog op skool is nie. Sy het belsuit om ’n plan te maak sodat die bejaardes die dag kon geniet.
Die News het in Augustus ook berig dat die gemeenskap graag bejaardes wil help. Febe von Wielligh het byna 100 geskenkpakkies by die tehuis uitgedeel en sy beoog om dit gereeld te doen.
As jy graag wil help, kontak Febe by 082 771 2047.
Vir nog foto’s oor die optrede, kliek hier.
Verwante artikels:
• [VIDEO] Lê jou hart ook by ons bejaardes?
• Tehuis inwoners steeds afgeskeep en onveilig
