Die raad kyk die energiekat eers uit die boom
Dit kan tot ’n groot probleem lei as die inkomstebron aanhou krimp.
Gemeet aan die persentasie van Suid-Afrika se BBP (bruto binnelandse produk) wat aan hernubare energie bestee word, is SA die vierde grootste belegger in dié vorm van energie.
Hernubare energie speel ’n al hoe groter rol in die land se ekonomiese opset.
Die Ontwikkelingsbank, die Tesourie en Eskom werk tans aan ’n program vir hernubare energie wat onafhanklike energieverskaffers sal betrek. Hernubare energie het in 2012 0,2 persent van die land se totale energiestroom uitgemaak. Die regering mik daarna om oor die lang termyn ’n situasie te skep waar 42 persent opgewekte elektrisiteit van hernubare bronne afkomstig sal wees.
Mogale City Plaaslike Munisipaliteit kry inkomste uit verskeie bronne, maar elektrisiteitsverskaffing aan inwoners is die grootse – 39 persent.
Die DA het by ’n vorige raadsvergadering daarop gewys dat al hoe meer mense hul eie elektrisiteit begin opwek deur verskeie stelsels. Indien hierdie neiging voortduur, sal die munisipaliteit se inkomste deur elektrisiteit te verskaf al minder word. Dit kan tot ’n groot probleem lei as die inkomstebron aanhou krimp.
Die DA het voorgestel dat die munisipaliteit die saak ondersoek en ’n langtermynstrategie uitwerk om dié inkomstebron te beveilig. Tydens ‘n onlangse raadsvergadering het ’n lid van die burgemeester se bestuurskomitee ’n item aan die raad voorgelê vir goedkeuring.
Hy het die raad gevra om ooreenkomste goed te keur ten opsigte van energie-aankope van privaat energieverskaffers. Die ooreenkomste sou ’n 20-jaar termyn hê.
Raadslid De Waal Venter van die DA het gesê die DA is ten gunste daarvan, maar dat energieverskaffing deur privaat verskaffers ondersoek moet word. Hy het gevra dat ’n beleid en strategie ten opsigte van energieverskaffing opgestel word. Hy het ook gevra dat daar geen ooreenkomste in hierdie stadium aangegaan word nie, aangesien die saak nie goed genoeg ondersoek is nie.
Die voorstel is verander en dit vra nou dat die ondersoek ingestel moet word en dat daar tans geen ooreenkomste aangegaan sal word nie. Die raad het die voorstel aanvaar.
