Plaaslike sangeres tree op by ICC Arena
Zoë van Niekerk, lid van Victory5, het by die gala aand opgetree.
’n Plaaslike sangeres het onlangs ’n groot stap in haar musiekloopban geneem.
Zoë van Niekerk saam met die ander lede van Victory5, ’n Christelike tienerpopgroep het vanjaar by die SABC Crown Gospel Musiek Toekennings op 15 November by Durban se International Convention Centre (ICC) Arena opgetree.
Die groep het twee nominasies vir hul debuutalbum Ek Weet Wie Ek Is ontvang; een vir die Beste Afrikaanse Album en die ander vir die Beste Pop Album.
Al het hulle nie met een van die toekennings weggestap nie, was die aand beslis nie vir dié vier tieners verlore nie. Hulle is inderdaad gevra om by die toekenningsgeleentheid op te tree.
“Dié ervaring was vir Victory5 onwerklik.
“Die ICC Arena is waar sangers soos Michael Bublé, Josh Groban, Roxette, Smokie, Enrique Iglesias, Michael W Smith en van die grootste name in die bedryf al opgetree het, en hier kom dié vier tieners en betower ’n stampvolarena met energieke musiek en styl. Dis ’n oomblik wat hulle vir altyd met hulle sal dra,” het Eon de Bruin, hul bestuurder gesê.
Nie net het die groep twee nominasies ontvang nie, maar die musiekvideo van die titelsnit van die album was ook vir 81 weke op Kruiskyk se musiekprogram, IMPAK se top 10.
Victory5 se tweede album word Maart 2016 vrygestel.
Verwante artikels:
• VIDEO: Zoë newest member of tween pop group
• Sterre sing saam vir liefdadigheid
• [VIDEO] Talentweek-wenner wys jou hoe om te ‘moonwalk’
