Sterre sing saam vir liefdadigheid
Ure se gesing en dans het Suiderlig se kerksaal tot laat vol gehou.
Van Bruwer Malan en Linda Killian tot Gert Koevert, Adam Barnard en Cordelia, het die sterre behoorlik geskitter tydens Vrydagaand 20 November se skouspel by die Suiderlig Auditorium.
Mad Productions, WOW en Nestermusiek het die Kersskouspel georganiseer ten bate van die minderbevoorregte gemeenskap en kinders van Krugersdorp. Toeang was slegs R30 per persoon.

“Die gelde wat ingesamel is, sal aan Deo Gloria House, Bethany House, Cradle of Hope en House of Jade gaan om te help met ’n paar Kersgeskenkies op Kersdag.
“’n Paar van die kunstenaars wat vanaand opgetree het gaan ook ’n uur of so op Kersdag afstaan om geskenkies by dié organisasies te gaan uitdeel,” het André Kilian, bestuurder van Mad Produksies, vertel.
Jonk en oud het die skouspel geniet. Heindrich en Christa Brits het ook die Sondagskoolkinders van die Afrikaanse Protestante Kerk vir die aand bederf. Hierdie kinders, asook dié van Deo Gloria House het die verhoog getrotseer en vir almal gewys hoe hulle hul lyfies kan skud.

Deo Gloria House se medestigter en bestuurderes, Christene le Roux het die News vertel dat dit hierdie nie-winsgewende organisasie byna R15 per dag kos om vir ’n honger kind ’n bord kos te gee. Hulle voorsien elke dag ’n bord kos vir omgeveer 500 kinders in Burgershoop en Munsieville.
“Dit is baie duur om so ’n organisasie aan die gang te hou,” het sy gesê.
Die doel agter die skouspel was om die finansiële las vir organisasies soos Deo Gloria Huis ligter te maak en die organiseerders glo deur optredes soos die van Vrydagaand, is dit moontlik.
Lees ook:
• Sopkombuis gee terug vir Mandela Dag
• Alarm to safeguard charity’s stock
• VIDEO: Opgehelderde gesigte dankbaar vir die verskil
