[FOTO’s] Monnas word 95
Hoërskool Monument het onlangs hulle 95ste bestaansjaar gevier.
In 1921 is die eerste klas van Hoërskool Monument verwelkom – 95 jaar later stap daar elke oggend meer as ‘n duisend leerlinge deur die skoolhek.
Op 1 Februarie het hierdie prominente skool groentjies sowel as oud-Monumentare voor die Gedenksaal gehoor van Monnas se ryke geskiedenis en tradisies.
“Ek dink die tradisies wat volhou word is wat die skool so uniek maak,” vertel bemarking- en skakelbestuurder Eben Vermaas.
Een so tradisie het die vorige Vrydag op die skoolterasse afgespeel toe elke nuwe Graad 8 leerling deur die skool se simboliek-ryke hekkie gestap het om as ‘n ware Monumentaar gesien te word.

By die verjaardagvieringe het die tradisie om erkenning aan voorlopers te gee, ook nou afgespeel. Ou hoofde en leerlinge het saam met die res van die skool die dag kom geniet.
Een van hierdie gewese leerlinge het ‘n spesiale erkenning gekry. Donna Viljoen, ‘n Krugersdorpse inwoner, is die tweede van vier geslagte Monumentare wate deur daardie hekkie gestap het.
“Haar pa het in 1921 by Monnas ingeskryf en so ook vir Donna. Donna matrikuleer in 1954, haar seun in 1978 en haar kleinkind twee jaar gelede,” het Esté Pienaar, onderwyseres en self ook ‘n oud-Monumentaar, gesê.

Soos alle formele byeenkomste het die hoofdogter, Marélize Meyer, die skool se erekode gelees en die feesvieringe het met ‘n reuse verjaardagkoek wat onder die 81 jaar oue reliëfwerk by die gedenksaal ontwerp is, afgeskop.
Vir meer foto’s van die groot verjaardag by Monnas, kliek hier.
Verwante artikels:
• Monnas-jukskeispelers ryg medaljes in
• [FOTO’s] Monnas Idols vat vlam op die verhoog
• [PHOTOS] Monnas not just about rugby – they paint too
