Arm studente moet opbou, nie afbreek nie
Hierdie studente glo dis beter om te gee as om af te breek aangesien hulle self behoeftig is.
Vier studente wat studielenings by Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum ontvang het, het bewys dat mens nie hoef af te breek as jy nie fondse vir studies het nie.
Leon van Rheede, Dewald Brummer, Darren Vlotman en Nathan Smith het ’n groep gevorm om ’n positiewe bydrae tot hul gemeenskap te maak.
Die vier studente van die Universiteit van Pretoria, wat self nie geld vir studies het nie en om studielenings moes aansoek doen, het ’n projek geloods waarby behoeftige leerlinge kan baat.
Nog leesstof: Solidariteit vra: gee jou hand …
Die studente moes as deel van hul studies 40 uur gemeenskapdiens doen. Na ’n lang soektog het hulle besluit om met Mobile Library Solutions in kontak te tree in die hoop dat hulle skole waar dit moeilik gaan, met ’n biblioteek kan ondersteun.
Een van die studente se ouma, Dottie Brummer het met die eienaar, André Venter oor die studente se projek gesels en sonder om te huiwer het hy ’n mobiele biblioteek en 200 boeke geskenk. Hy het later die skenking uitgebrei na ’n eenheid wat 500 boeke bevat, en het ook ’n 40-duim televisie, DVD-speler en 25 DVD’s ingesluit. Die totale skenking is bykans R75 000 werd en kan by enige behoeftige skool geplaas word.
Hulle het Laerskool Ebenhaeser in Krugersdorp-Wes as begunstigde gekies. Die skool dien ’n gemeenskap wat baie swaar kry en die skool self het uiteraard nie fondse om hul skraal, vervalle en ongelooflik verouderde mediasentrum op te gradeer nie.
“Ons het gevoel ’n skool soos hierdie, waar van die skool se kinders afhanklik is van skenkings van kerke en ander instansies om kos gedurende die dag te kry, die skenking verseker verdien,” het Leon gesê.
Nog leesstof: VIDEO: Reik ‘n helpende hand uit
“Ek het die onderwyser wat die hoof van die biblioteek is, gaan sien en sy het my van hul finansiële probleme vertel. Volgens haar is die kinders baie entoesiasties oor lees, maar is die skool nie in ’n posisie om aan die kinders se behoeftes in daardie opsig te voldoen met hul bestaande infrastruktuur nie.”
Die groep studente het die eenheid einde verlede jaar aan die skool oorhandig. Die eenheid met 496 boeke en 25 DVD’s het reeds ’n groot verskil in die kinders se lewens gemaak.
Individue en instellings wat daarin belang sou stel om sodanige fondse beskikbaar te stel, kan Dinah Theron by 072 126 1158 kontak of by dinah@helpendehand.co.za.
