Veels geluk liewe Arri
Superman, Wonderwoman en selfs prinsesse het vir Arri geluk gewens met sy verjaarsdag.
Helde en heldinne van regoor Krugersdorp het vir die spesiale viering van Arri, Noordskool se gelukbringer, se derde verjaarsdag opgedaag.
Arri die Arend het sy derde verjaarsdag op 25 Februarie op Laerskool Krugersdorp-Noord se skoolterrein saam met die personeel en leerlinge gevier.

Hy tree ook as motiveerder op wat die leerlinge aanspoor om op verskeie gebiede soos akademie, sport en kultuur te presteer.
Arri is so bekend onder die leerlinge dat hulle selfs vir hom briefies skryf.
Alhoewel niemand die ware identiteit van Arri ken nie, het Juffrou Anita Miller, Arri se skoolmamma, aan die News sy rol verduidelik.
Al kan Arri nie op elke briefie reageer nie, skryf hy dikwels briewe vir die leerlinge wat dan tydens ‘n saalbyeenkoms gelees word.
Omdat hy ‘n visarend is, word hy met ‘n visarendkreet geroep om die leerlinge te laat weet dat hy op pad is.

Sy gunsteling liedjie is die Waka-Waka-liedjie wat die temalied van die 2010-sokkerwêreldbekertoernooi was.
Wanneer Arri nie besig is om die leerlinge aan te spoor nie, is hy by sy nes in ‘n pragtige kloof waar hy die hoofarend is.
Arri se spesiale verjaarsdag is gevier met ‘n yslike koek wat deur een van die leerlinge se ouers gebak is.
“Maar dié wat op die Here vertrou, vlieg op arendvlerke,” lees die vers op die koek wat 3,2m by 0,75m groot was en gesorg het dat elke leerling ‘n lekker stuk kry gedurende eerste pouse.
Arri het in ‘n 1923 Ford T-Bucket by die skool opgedaag waar honderde leerlinge geklee as verskeie helde en heldinne opgewonde vir hom gewag het.
Superman, Wonder Woman, Spider-Man, Batman, Vikings, prinsesse en allerhande bonatuurlike karakters het op die veld gestorm om vir Arri ‘n drukkie te gee en hom ‘n gelukkige verjaarsdag toe te wens.
Vir meer foto’s van Arri se verjaardag, kliek hier.
