CrimeLocal newsNews

Vrou voel hulpeloos na sy ‘weer’ besteel is

Annamarie Ellis voel nie meer veilig na haar kar vir die derde keer in ses maande gesteel is nie.

Vir Annamarie Ellis, ‘n Krugersdorp-Wes inwoner, was dit die laaste strooi toe die motor, wat sy by haar vriendin Hester Venter geleen het, onlangs voor die Binnelandse Sake-gebou in Kommissarisstraat gesteel is.

Ellis is boonop reeds “finansieel geruk,” en voel die plaaslike polisie doen niks om haar te help nie. Sy is verlede November ook besteel toe sy geld by ‘n OTM in Rustenburgweg getrek het.

“Ek is in my kar gegooi en hulle het met my weggery. Ek het weggekom en my kar is later in Randfontein gevind. Die polisie het my nooit gevra vir ‘n beskrywing van die verdagtes nie,” het Ellis aan die News vertel.

“In April is die kar weer in Roodepoort gesteel en nooit gekry nie.”

Dinsdag (17 Mei) is Venter se kar toe ook gesteel.

“Ons het die kar oorkant Binnelandse Sake parkeer en ‘n karwag gegroet wat aangebied het om na die kar te kyk. Ek het die kar se deure gesluit, die ratslot opgesit en die uitsnyskakelaar aangesit. Maar ‘n uur later het iemand die gebou ingehardloop en gesê ‘n voertuig word gesteel. Toe ons uitkom was die kar reeds by die verkeerslig. Hy het vreeslik gerook en ruk-ruk in die pad afgedraai. Die verdagtes het weggekom,” het Ellis vertel.

Ellis en ‘n vriend wat saam met haar daar was het toe onmiddellik polisiestasie toe gegaan en die saak gerapporteer.

“Ek het die polisie vertel van die vier mans wat buite die gebou gesit het en wat die hele storie dalk gesien het. Maar ek is met min entoesiasme begroet,” het sy gesê.

Die Krugersdorp polisie ondersoek tans Ellis se saak, maar sy voel hulle werk nie saam nie.

Venter het vertel sy is bekommerd oor Ellis se gesondheid aangesien sy onlangs weer ‘n beroerte gehad het. Ellis versorg ook haar bedlêende ma en kan dus nie meer werk nie.

“Waar is reg en geregtigheid? Ons is selfs te bang om inkopies te gaan doen,” het Venter gesê.

Die Krugersdorp polisiewoordvoerder, Sersant Tshepiso Mashale het gesê die polisie is bewus van die vele klagtes van diefstal voor en langs die Binnelandse Sake-gebou.

“Ongelukkig het die polisie nie die nodige hulpbronne om ‘n polisievoertuig permanent daar te hê nie,” het sy kort na nog ‘n diefstal in Maart gesê.

“Die sekuriteitswagte buite Binnelande Sake is ook verantwoordelik vir die veiligheid van mense buite die gebou en moet dit aan die polisie rapporteer indien hulle van enigiets weet.”

Lees meer:

Beware: pickpockets strike again at Home Affairs

Third Home Affairs victim comes forward

Attacked next to Home Affairs

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button