Monnas gekruisig oor ‘swak keuses’
Die skool het nie 'n persoonlik vendetta teen die afrigter nie – volgens die beheerliggaam.
Na ‘n anonieme oproep aan die News en beskuldigings van ‘n persoonlike vendetta tussen die voorsitter van ‘n beheerliggaam en die rugbydirekteur van ‘n plaaslike hoërskool, is al die feite onlangs duideliker gemaak.
Volgens ‘n bekommerde ouer het die beheerliggaam van Hoërskool Monument gedurende hul vergadering dié week besluit dat hulle nie die rugbydirekteur, Hans Coetzee, se kontrak gaan hernu nie. Dit was vir Coetzee en sy ondersteuners ‘n groot skok.
Maar volgens Christo Swart, die voorsitter van die beheerliggaam, is ‘n persoonlike vendetta nie die rede waarom die kontrak nie hernu word nie.
Hy het gesê die beheerliggaam het al in November verlede jaar vir Hans meegedeel dat sy kontrak aan die einde van 2016 verstryk. Dit was dus nie ‘n skokbesluit soos daar op sosiale media beweer word nie.
Oud-Monumentare het gisteraand, 8 Junie, ‘n Facebook-blad vir Hans Coetzee gestig om hul ondersteuning vir die saak te toon. Ander kan hul opinie oor die saak daar lug. Trudie Vermaak het die volgende kommentaar op Monnas se persverklaring gelewer: “Wie gaan hierdie paar skoene nou vul? Hans Coetzee is die mees gevreesde rugbyafrigter nog in skolerugby. Dis nie wat ek sê nie, dis wat die media sê! Hierdie is ‘n baie baie groot fout!”
Hans se dogter, Marguerite Kruger, het op die blad Monnas Old Boys Backing Hans Coetzee vertel dat die beheerliggaam wel in November 2015 aangedui het dat Hans se kontrak nie ná 2016 hernu sal word nie, maar sedertdien was hulle in onderhandelinge betrokke. Die finale besluit is eers verlede week geneem en eers Maandag aan hom gekommunikeer. Die enigste rede wat hulle kon aanvoer om nie die kontrak nie hernu nie, is toekomsbeplanning.
In die persverklaring wat deur die beheerliggaam uitgereik is, sê hulle dat ‘n toekomsgerigte besluit geneem is en dis hoekom die kontrak nie hernu sal word nie. Hulle het die grootste lof en waardering vir Hans en bedank hom graag vir jare se toewyding en lojaliteit jeens Monnas. Hulle wens hom alle sterkte toe vir die toekoms.
Nog Monnas-nuus:
Monnas klop Waterkloof in die reën Monnas behaal groot sege oor Waterkloof
Plaaslike sport akademie se atlete ryg medaljes in
FW de Klerk-beurs bekendgemaak
