Leerlinge kry meer dié winter
'n Sekuriteitsmaatskappy het komberse aan die leerlinge van CVO Brandwag Laerskool geskenk.
Op Donderdag (2 Junie) het 30 leerlinge van CVO Brandwag Skool met groot waardering ‘n wintergeskenkie van Mapogo a Mathamaga-sekuriteit ontvang.
Die skool, een van 48 van sy soort in die land, is ‘n ouergedrewe skool waar die ouers eienaarskap neem van hulle kinders se opvoeding.
“Die skool het vyf onderwysers wat na 30 laerskoolleerlinge omsien,” het Lina van Vuuren, die skoolhoof, aan die News vertel.

Dewald Naudé, areaverkoopsbestuurder van Mapogo a Mathamaga, het gesê hulle het die fondse geskenk vir die materiaal van die komberse wat deur vier vrywilligers gemaak is. Magda Lombard, een van die vrywilligers en ‘n onderwyseres aan die laerskool het gesê dit het byna ‘n uur geneem om een kombers te maak.
Lina het bygevoeg dat sy baie dankbaar is vir die sekuriteitsmaatskappy wat in die gemeenskap terugploeg.

“Nou gaan die kinders dié winter warm bly onder die komberse en aan Mapogo dink,” het sy gesê.
CVO Brandwag is ‘n niewinsgewende maatskappy. Saam met 48 ander skole vorm hulle die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO). Alle fondse wat ingesamel word, word aan die opvoeding van die kinders bestee.
Lees ook:
• [VIDEO] Bejaarde betrap inbrekers by haar huis
• Brandwag Skool – die laerskool met ‘n verskil
• [FOTO’s] Gemeenskapsentrum vuurwarm vir winter
