Kom stap saam in die vars winterlug
Die klub bied 'n gratis lidmaatskap aan en jy kan maar verwag om oor berge en dale te stap.
Vir dié wat lief is om op ‘n koue winteroggend koel en vars lug in te asem sal die Krugersdorpse Stapklub se winterstaproetes ideaal wees.
Op 9 Julie pak stappers die roete Bergheim aan.
Hierdie roete is naby die Rustenburg-omgewing, met ‘n reisafstand van 220km heen en weer, en is aan die voet van die Magaliesberg-reeks. Dit is skilderagtig mooi en die motors word op die gronde van die Bergheim-vakansieoord geparkeer. ‘n Gedeelte van die roete is op ‘n redelike gelyk stuk veld van omtrent ‘n kilometer lank en dan begin die stap berg op.
Daar is twee maniere om op of af te gaan. Met die linkerkantste roete word daar deur ‘n droë lopie gestap en dan word daar skep teen ‘n rotsagtige formasie uitgeklim. Dit is nie ‘n kransagtige formasie nie, maar dit is beter om daarteen op te stap as af. Daar is baie mooi bome en plante op die roete, en as mens bo-op die kruin kom, kyk jy af op die dam daar onder. Hier vertoef die stappers gewoonlik ‘n rukkie, en dan stap hulle regs af deur ‘n klofie en anderkant teen die berg af. Hierdie roete het ‘n gradering van vyf, het sy moeilikheidsfaktor en is 10km lank.
Die roete Shelter Rock of Rustig word vir 13 Augustus beplan.
Rustig is op privaat grond geleë, omtrent 55km van hier reg teen die Magaliesberg in die Skeerpoort-omgewing, net verby Hekpoort.
Dit is werklik ‘n pragtige roete. Ons stap teen die berg uit tot op die kruin vanwaar ons selfs die mynhope (dié wat nog bestaan) van Krugersdorp op ‘n mooi skoon oggend kan sien. Die uitsig hier van die kruin af is asemrowend mooi; selfs ‘n gedeelte van die Hartebeespoortdam is sigbaar.
Ons stap ook baie gemaklik op die kruin, en met die afstap rus ons onder ‘n oorhangende rots, wat ons sommer die grot noem. Die afstap is plek-plek effens steil, maar nêrens is dit gevaarlik nie. Ons braai ook gewoonlik op hierdie stap.
Somtyds moet jy ook maar beur en klouter teen die hoë rotse uit, maar dit bied ‘n uitdaging aan elke volbloedstapper wat die natuur in al sy vorms liefhet – maar as jy daar uitstap op pad terug, sê jy vir jouself “ek kom terug”.
Wil jy graag saamstap? Kontak vir Lu Ludick by 083 235 1958, Renaldo Prinsloo by 082 879 8795 of Phillip Olivier by 083 788 4555 vir meer inligting.
Lees verder:
Begin die jaar met ‘n huppel in jou stap
Lekker stap om winter in te lyf
