‘My hart is in stukke’
Die bedelaar en motorwag stort sy hart uit na 'n onlangse tragedie.
Keith Unwin se laaste genade en hoop op straat was sy goeie vriendin wat saam met hom die stryd teen die elemente gestry het.
Maar nou is Keith se hart in stukke. Hy het vir die News vertel dat sy vriendin, Diane Schutte glo dood is nadat sy deur ‘n voertuig in Roodepoort raakgery is.
Keith en Diane het vroeër vanjaar die voorblad van die News gehaal met hul hartverskeurende verhaal as die ‘hawelose vriende by die vakansieverkeerslig’.
Lees hier: Hawelose vriende mekaar se genade
Keith se hartseer het twee weke gelede begin toe Diane glo saam haar nuwe vriend weggeloop het. Dit was die laaste keer dat hy haar gesien het.
“Hulle het my bottelstoor toe gestuur en toe ek terugkom was sy net weg,” het hy in trane vertel.
Uit die bloute, op 3 Julie, het die man saam met wie Diane verdwyn het, vir Keith haar bedelbordjie gebring met die slegte nuus van haar dood.
“Hy het gesê dat sy by ‘n verkeerslig in Florida doodgery is.”
‘n Emosionele Keith het vertel dat hierdie insident hom finaal geknak het.
“Ek’s moeg. Ek het so gehuil. Ek het iemand nodig om my te help, ek gee op. Dis my eie skuld.”

Na Diane se verdwyning slaap hy nie meer op die verlate treinspoor naby die vakansieverkeerslig nie, maar oorkant die pad op ‘n stoep.
Sedert die eerste artikel het Keith ook al los werkies vir sy vorige werkgewer gedoen en werk steeds as ‘n karwag by die winkel op die hoek.
Hy het vertel dat ‘n barmhartige Samaritaan vir hom onlangs R200 gegee het wat hy gebruik het om by die Tower of Life te slaap, en vir kos en sigarette.
Keith is steeds bereid om enige werk te doen vir ‘n beter inkomste en meen dat hy ‘n nuwe blaadjie wil omslaan na die afgelope tyd op die straat.
Volgens hom is die kouefronte en ‘n gebroke hart nie ‘n goeie kombinasie nie.
Voordat die News vir Keith gegroet het, is ‘n Bybelvers aan hom oorhanding. Dit het hom weer in trane laat uitbars. “Ek’s ‘n man van 50 en ek huil nog so,” het ‘n verwese Keith gesê.
Lees verder:
Bedelaars skel jou as jy nie gee nie
Bedelaar bêre dwelms onder sy bed
Gewese bedelaar en verslaafde ‘n man duisend
Gee jy eerder vir Oscar of vir die ander?
