Louise en Emwee Vorster van Die Groen Kat saam Trudie Naudé, Estelle Opperman en die Mug en Tree-maatjies.
‘n Debat tussen ‘n restauranteienaar en die hoof van ‘n kleuterskool vir minderbevoorregte kinders het op ‘n gemeenskapsprojek uitgeloop.
Volgens Mug en Tree Kleuterskool se hoof, Estelle Opperman het sy en Emwee Vorster van Die Groen Kat-restaurant een aand op Facebook ‘n debat gevoer oor kos wat by restaurante vermors word terwyl daar ander is wat honger ly.
Trudie Naudé en Estelle Opperman saam met ander maatjies by Die Groen Kat.
Hulle kom toe tot die gevolgtrekking dat Emwee die kos het en Estelle te doen kry met mense wat skaars genoeg het om te eet. Dis toe waar die konsep om ‘n bord kos te borg, gebore is.
Klante van die Groen Kat is toe uitgedaag om ‘n bord kos te borg vir minderbevoorregtes in die gemeenskap.
Die blondekoppie van Mug en Tree weet nie waar om te begin nie. Foto: Verskaf.
Twintig van Mug en Tree se kinders saam met 20 minderbevoorregte bejaardes is toe onlangs na die restaurant toe waar hulle ‘n smullekker maaltyd en verversings geniet het.
Daar het ‘n doodse stilte geheers toe die kinders aan hulle heerlike ontbyt van melkskommels, roereiers, roosterbrood en baie tamatiesous gesmul het.
“Baie dankie dat julle jul harte oopgemaak het vir ons. Ons sê ook graag dankie aan die barmhartige borge wat hierdie geleentheid moontlik gemaak het,” het Estelle gesê.