Familiedag by Môreglans
Daar is 'n ligte, vrolike program aangebied met 'n uitvoering deur Panorama Aftreeoord se koor.
Foto: Ingestuur.
‘n Suksesvolle geleentheid is onlangs vir die familie en kinders van die inwoners van Môreglans Tehuis aangebied.
Uitnodigings is aan die familie van die bejaardes gestuur om ‘n familiedag saam met hul geliefdes te spandeer.
Die geleentheid is aangebied met die hulp van die vrywilligers wat die
uitnodigingskaartjies aan die families gestuur het, die saal versier het en die blomme en ballonne voorsien het. Die kombuispersoneel het vir al die inwoners en families ‘n heerlike ete van vetkoek-en-maalvleis voorgesit en die vrywilligers het toegesien dat daar heerlike nagereg was.
Daar is ‘n ligte, vrolike program aangebied met ‘n uitvoering deur Panorama Aftreeoord se koor, voorlesings deur bejaardes, sagte vioolmusiek en ‘n kitaarkeurspel.
Henrico en Lisa Kok het die gehoor lekker laat saamsing toe hulle ou, bekende liedjies gespeel het. Ballonne is die lug ingestuur met ‘n boodskap van hoop en verwagting waaraan almal help skryf het. Die program het ‘n uur geduur en daarna is middagete bedien. Die gesinne en families kon toe lekker om die tafel saamkuier.
Die bestuur van Môreglans bedank graag die leerlinge en personeel van Pro-Practicum Skool vir hul Tekkie Tax-bydrae.
“Dankie vir jul ondersteuning aan SAVF Môreglans se Tekkie Tax-veldtog,” het San-Mari Ferreira, ‘n maatskaplike werker by Môreglans gesê.
Nog Môreglans nuus:
Dubbele Kersfees bederf vir Môreglans
Môreglans se dubbelle bederf op Mandela-dag
‘n Warmer winter vir Môreglans
Môreglans doen dit sommer self
