Sakke vol klere en emmers vol liefde
'n Plaaslike liefdadigheidsorganisasie het die kleuters van Tjokkertjies vir Jesus met warm winteritems en lekkers bederf.
Glimlaggies, drukkies en emmers vol liefde was aan die orde van die dag tydens ‘n onlangse uitreik by Tjokkertjies vir Jesus.
Die maatjies van die kleuterskool is met hoedjies, handskoene, serpe, skoene en komberse verras.
Die bederf het nie daar geëindig nie en elke kind het ook ‘n pakkie lekkergoed ontvang wat hulle dadelik aan die eet gesit het.
“Baie dankie aan elkeen wat dwarsdeur die jaar gebrei en gehekel het vir julle harde werk. Baie dankie ook aan almal wat gehelp het om verskeie items bymekaar te maak asook vir die wonderlike skenking van tekkies – ‘n duisend dankies,” het Betsie Stokes, stigter van die organisasie Emmers vol Liefde gesê.

Dit is egter nie al waarmee die organisasie, wat een maal per week vir die kleuterskool brood verskaf, besig is nie.
Tans voorsien hulle gereeld brood, ander kos, klere en beddegoed aan sowat 30 gesinne, 104 bejaardes, twee kleuterskole en plakkerskampbewoners.
Gedurende die koue wintermaande het hulle ook ‘n sopprojek om vir minderbevoorregte gesinne en bejaardes warm etes voor te berei en te voorsien.
“Ons is so dankbaar vir selgroepe, kerke, besighede en privaat persone wat ons so gereeld ondersteun. Ons as organisasie kan nie genoeg daarvoor dankie sê nie, want sonder ondersteuning kan ons nie hierdie verskil maak nie,” het Betsie gesê.
Soorgelyke artikels:
•Bejaardes ontvang emmers vol liefde
•‘Vergete’ bejaardes in munisipale tehuise se noodkreet
