Afrikaners is vir seker plesierig
Na al die formaliteite afgehandel is, was dit tyd om te skoffel.
‘Afrikaners is plesierig’ is al manier hoe mens die ATKV Featherbrooke-tak se onlangse Winterbal kan beskryf.
Die bal is by die prentjiemooi Usambara gehou waar ATKV-lede, hul metgeselle en afgevaardigdes gewys het waarom Suid-Afrika bekend is vir sy kuns en kultuur, en terselfdertyd fondse ingesamel het vir liefdadigheid.
Die ATKV Featherbrooke-tak is op 19 Augustus 2010 deur ‘n paar vriende gestig, met die oorhoofse doel om ‘n bydrae te lewer op maatskaplike vlak.
Hul spesifieke fokus is op die sentrale rol wat die gesin binne die samelewing speel.
Die tak is sedert hul ontstaan betrokke by The Bethany House Trust-kinderhuis in Monument.

“Ons bied jaarliks die Winterbal aan om fondse in te samel vir ons Bethany House-projekte en pak jaarliks twee uitreikprojekte aan saam met die kinderhuis,” het Jacques de Villiers, voorsitter van die tak gesê.
Baie van hierdie kinders was nog nooit by die see nie en volgens Jacques werk die taklede hard om hul droom te bewaarheid om voldoende fondse in te samel om die kinders een jaar vir ‘n week met die trein na die ATKV se Natalia Vakansie-oord aan die KwaZulu-Natalse Suidkus te neem.
Tydens die bal is Esté Pienaar, ‘n Hoërskool Monument-onderwyser met ‘n Afrikoon-toekenning vereer vir haar merkwaardige bydrae tot Afrikaanse kuns en kultuur.
Na al die formaliteite afgehandel is, was dit tyd om te skoffel en Suid-Afrika se prins van pop, Kurt Darren, het die dansvloer met sy treffers geopen.
As jy graag betrokke wil raak by die ATKV se fondsinsameling, skakel vir Jacques by 083 297 2709.
Lees verder:
Boereoorlog drama presteer by ATKV
Menseregtedag, kultuur en menseregte
Nories maak geskiedenis op die planke
