Kennies-tennisspelers wen liga
Die spelers het tydens die geleentheid teruggedink aan die jaar se stories, kompetisies en suksesse.
Die Krugersdorpse Tennisklub het onlangs hul jaareindfunksie saam met Laerskool Kenmare se jong tennisspelers gehou. Die spelers het tydens die geleentheid teruggedink aan die jaar se stories, kompetisies en suksesse terwyl elkeen met ‘n raket op die Kenmare-tennisbane gestaan en balle rondslaan het.
Oor die D2-streekskampioenskappe het die spelers baie te sê gehad. Die span wat ingeskryf was, het bestaan uit vier spelers – Sulize Grobler, Monique Diedericks, Caitlin Knipe en Ruard Botha. Die wenners sou dan deel vorm van die Wes-Randse D2-tennisspan.

Ander spelers het weer vir die Wes-Rand D2-liga gekwalifiseer. Die span wat vir die liga ingeskryf was, het algeheel eerste geëindig en het deurgedring na die D2-streekskompetisie. Kenmare se o.13-dogters het onder andere die liga gewen, met ‘n totale telling van 195 teen 15.
Die klub spog nie net met hul prestasies deur die jaar nie, maar wys ook dat hulle omgee vir die spelers wat sukkel. Die klub het die Tennis SA-ontwikkelingsprogram deel van hul jaarlikse program gemaak.
“Die program bestee aandag aan swakker tennisspelers of dié wat nie onder die top 100-spelers is nie om sodoende hul vaardighede ten volle te ontwikkel,” het Hennie Kruger, voorsitter van die Krugersdorpse Tennisklub en Kennies se tennisafrigter gesê.

Gerrit Viviers, Jaden Kuipers, Wian Vogel en Michelle van Rensburg is vir die Gauteng-ontwikkelingsprogram gekies en het teen verskeie spelers gedurende ‘n toernooi gespeel. Hulle is ook in die D2-ontwikkelingspan opgeneem.
Tydens ‘n ontwikkelingsprogram in Randfontein het spelers ook die geleentheid gehad om vaardighede op ‘n makliker manier te leer en dit dan op die tennisbaan te weerspieël. Die program gebruik spesiale tennisballe wat aangepas is om stadiger te beweeg sodat spelers hul vaardighede kan oefen.

Daar word drie verskillende balle tydens so ‘n program gebruik. Die rooi bal is 75 persent stadiger as ‘n normale tennisbal en word gebruik om beginners te leer. Wanneer die spelers die vaardighede met die rooi bal onder die knie het, vorder hulle na die oranje tennisbal wat 50 persent stadiger is as ‘n normale tennisbal. Daarna vorder hulle na die groen tennisbal wat 25 persent stadiger as ‘n gewone tennisbal is. So leer die tennisspelers in die ontwikkelingsprogram binne nege uur om tennis te speel.
“Ons sluit die jaar, soos elke jaar, af as ligawenners en as beter tennisspelers as wat ons selfs die vorige jaar was,” het Hennie trots gesê.
Verwante tennis artikels:
• Tennis hou voordele vir kinders in
• Kenmare se tennis al 20 jaar sterk
• VIDEO: Raak aktief met tennis
