Die liefde blom steeds na 60 jaar
Die twee verliefdes is steeds springlewendig en gesond.
Die liefde oorwin alles.
Middagete is op die stoof en die geur van liefde hang in die lug by Joey en Frans Jooste se tuiste. Hul sin vir humor laat jou dadelik tuis voel. Hulle kyk met blink oë na mekaar en die News kan sien dat dié paartjie steeds verlief of selfs meer verlief is as wat hulle 60 jaar gelede was.
5 Januarie is nie net ‘n gewone dag vir hulle nie. Op 5 Januarie 1957 het Joey en Frans hulle liefde aan mekaar beloof – die liefde wat steeds sterk is. Op dié dag vier hulle elke jaar hulle spesiale huweliksherdenking.
Hulle het mekaar 63 jaar gelede ontmoet toe Frans vir sy oupa in Amersfoort gaan kuier het. Frans het met die eerste oogopslag geweet dat hy en Joey vir mekaar bestem is.
Die twee verliefdes is steeds springlewendig en gesond. Joey verrig graag takies in die huis en Frans spandeer sy dag buite in die tuin of hou sy hande besig. Hulle glo dat mens aktief moet bly en nie moet gaan sit nie.
Die paartjie se goue reël is om meer te gee as wat jy ontvang. Frans het laggend aan die News vertel dat hulle deur dik en dun saamstaan en dat hy maar altyd die dun kant kies. Hulle voel baie geseënd met hul drie kinders en spog met vyf agterkleinkinders.
Die News wens vir Joey en Frans geluk met die besonderse mylpaal in hul huwelik.
Lees ook
50 jaar getroud, maar ‘n leeftyd saam