Mogale City se waterbestuur is in so ‘n geweldige krisis dat dit die koalisieregering baie tyd en geld en gaan kos om weer op koers te kom.
Vryheidsfront Plus-raadslid Amanda de Lange het gesê die nalatenskap van die vorige regering is vernietigend en daar is beslis geen kitsoplossing nie.
“Ek het die raad herhaaldelik gewaarsku en daar is selfs op die VF Plus se aandrang ‘n besoek gebring aan al die probleemgevalle, maar min is gedoen.”
Sy skryf dit veral toe aan die vorige bedeling se swak bestuur en die raad se weiering om weer die BIQ-rekeningsisteem te gebruik. Daar word tans twee sisteme gebruik wat onafhanklik van mekaar bedryf word.
“Die VF Plus het gevra dat geen dienste van belastingbetalers opgeskort word voordat die finansiële stelsel nie ten volle in werking is nie.”
Sy het voorts gesê dit is onregverdig teenoor die huiseienaars wat probeer water spaar terwyl groot waterverbruikers nie by die reëls hou nie. Volgens ‘n verslag van Utility Management Services (UMS), ‘n maatskappy wat onder andere verantwoordelik is vir meterlesings in die dorp, het verskeie groot maatskappye en landgoedere nie ‘n grootmaat-waterverbruikmeter nie. Dit is dus onmoontlik om vas te stel hoeveel water die kompleks of besigheid gebruik en hoeveel verlore gaan.
“Dit is ook toenemend die gebruik in Mogale City om ‘n staalboks om ‘n watermeter te bou en dit te sluit sodat ‘n meterleser nie die lesing kan doen nie. Baie watermeters is ook binne die kompleks en op erwe wat dit onbereikbaar maak.
“Nog ‘n probleem is dat die voorafbetaalde water se data net op ‘n rekenaar by die Water- en Sanitasiekantore geberg word. Niks is op ‘n stelsel beskikbaar sodat die inligting deur byvoorbeeld die finansiële departement gebruik kan word nie.
“Gedurende die raad se besoek aan omstrede besighede is watermeters gevind wat nie aan die stadsraad behoort nie, ander meters was diep onder die grond begrawe en ‘n hele paar was foutief. Die raad is steeds besig om met die maatskappye te praat,” het sy verduidelik. De Lange het gesê dit is skokkend om te sien hoeveel van die grootste waterverbruikers wel rekeningnommers by die raad het, maar dat daar eenvoudig nooit lesings geneem en op enige van die munisipale stelsels ingevoer is nie.
Aan selfs die kritieke probleme wat die kontrakteur tydens verskeie vergaderings aan Mogale City uitgewys het, is nooit deur die vorige ANC munisipale bestuur opgevolg nie. Volgens De Lange is dit hoogs ongerymd en het sy op verskeie finansiële portefeuljekomiteevergaderings die kwessie met die vorige finansiële bestuur opgeneem.
Sy het gesê die koalisieregering waarvan die VF Plus deel is, gaan dringend die probleme met die geweldige verliese aan water en miljarde rande se inkomste vir die munisipaliteit oplos. Dit is egter frustrerend dat die ANC tot dusver alles in hul vermoë gedoen het om die nuwe koalisieregering omver te werp.
Mogale City kan slegs ‘n wen-stad word indien die foute en onbevoegdheid van die verlede met wortel en tak uitgeroei word.
Lees ook
Mogale City commends residents for saving water
Are you ready for water restrictions?
Municipality addresses water concerns after pool re-opening
