Intussen staan alles in Mogale stil
"As die ANC soveel tyd aan dienslewering spandeer het soos hulle aan sabotasie spandeer, sou die stad nie die probleme gehad het waarmee ons tans sit nie."
Die konstante bakleiery onder raadslede in Mogale City Plaaslike Munisipaliteit het veroorsaak dat die eens vooraanstaande stad in totale chaos verval het.
Sedert Lynn Pannall, voormalige DA uitvoerende burgemeester weens swak gesondheid in Desember 2016 bedank het, was daar nog nie een dag dat die veelpartyregering (wat bestaan uit die DA, VF Plus en IVP) nie met die ANC koppe gestamp het nie. Michael Holenstein, wat ná Pannall die burgemeesterstoel oorgeneem het, moes menige kere besluite neem waarmee die ANC nie tevrede was nie.
Holenstein het onlangs vir Patrick Lipudi, die Speaker die raad van venynigheid beskuldig, nadat hy menige kere versuim het om raadsvergaderings te belê. Holenstein en die res van die DA-lede het tydens ‘n noodvergadering ‘n nuwe speaker, Jacques Hoon verkies. Die DA het ook Ernest Modise as die nuwe Sweep in die plek van Sipho Dube aangestel.
Die ANC het dadelik teruggekap en gesê die verkiesing was onwettig. Paul Mashatile, Gauteng LUR vir Samewerkende Regering en Menslike Nedersettings het Mogale City besoek net om Lipudi en Dube in hul poste te herstel.
Die DA het gesê die ANC probeer hulle saboteer, terwyl die ANC die burgemeester van onbevoegdheid beskuldig.
Terwyl al hierdie politieke onenigheid heers, ly die inwoners van Krugersdorp daaronder. Die munisipale werkers weet nie meer van wie hulle instruksies moet ontvang nie, en aangesien die munisipale bestuurders nie kyk of hulle die werk doen nie, staan alles in die dorp stil.
In ‘n artikel oor Mogale se swak dienslewering wat vroeg in Januarie geplaas is, het die News oor die verval van die dorp geskryf.
Lees die volledige artikel hier
Sedert die artikel geplaas is, het die News talle oproepe oor swak dienslewering gekry. Inwoners wat naby publieke parkies in Silverfields en Noordheuwel bly, het gekla dat die parkies in ‘n haglike toestand is weens die gebrek aan instandhouding. ‘n Inwoner het gesê die gras in die parkies is die afgelope drie maande nie gesny nie, daarom kan haar kinders nie daar gaan speel nie. ‘n Video wat wys dat boemelaars daar in die bosse slaap, is ook in die artikel ingesluit.
Ander inwoners het die News gereeld gekontak oor gras wat lank was, straatligte wat permanent brand, waterpype wat bars, en menige ander probleme.
Reinette van der Zwan, adjunkhoof van The Gateway School, het ‘n buitensporige hoë waterrekening ontvang. Haar watermeter het blykbaar ‘gespring’ toe dit 9999 liter bereik het. Sy het dagvaardings gekry en alles in haar vermoë gedoen om die probleem onder die aandag van die munisipaliteit te bring.
Die R24 tussen Randfontein en Krugersdorp is vrot van die slaggate. Stopstrepe en middellyne bestaan nie, en verkeersbeamptes staan ook nie meer om elke hoek en draai om boetes uit te skryf nie.
Projekte soos die restorasie van Kroningspark en die verjonging van die middestad het ook tot ‘n totale stilstand gekom.
John Moodey, DA Parlementslid vir Gauteng het gesê die ANC het vir jare Mogale City wanbestuur en sedert die DA die stad wou begin verbeter, het die ANC dit hul missie gemaak om die DA se planne te saboteer.
“As die ANC soveel tyd aan dienslewering spandeer het soos hulle aan sabotasie spandeer, sou die stad nie die probleme gehad het waarmee ons tans sit nie,” het Moodey gesê.
Holenstein het die inwoners van die stad gevra om geduldig met die nuwe munisipaliteit te wees.
“Al wat ek van die gemeenskap vra is net om geduldig te wees,” het Holenstein gesê. “Daar is geen kortpaaie of kitsoplossings om die reuse taak wat vir ons wag, aan te pak nie.”
Intussen het die munisipaliteit ‘n raadsvergadering belê wat op Dinsdag, 31 Januarie in die stadsaal gaan plaasvind om probleme soos die aanstel van ‘n munisipale bestuurder te bespreek.
Lees meer nuus oor Mogale City hier
Mogale City commends residents for saving water
