“Terwyl inwoners van Mogale City ongeduldig wonder waarom die gras nie gesny word nie, probleme met die munisipale rekeninge nog voortsleep en ander dienste nie behoorlik op dreef is nie, is die veelpartyregering druk besig om aanslag na aanslag van die vorige ANC-regering af te weer wat probeer om die munisipaliteit op sy knieë te bring.”
So meen raadslid Amanda de Lange van die Vryheidsfront Plus, wat deel vorm van die veelpartyregering in Mogale City.
De Lange het die gemeenskap gevra om geduldig te wees en steeds probleme by hul raadslede aan te meld. Daar word aandag aan versoeke en klagtes gegee, al is sommige van die amptenare traag om werklik skouer aan die wiel te sit om die munisipaliteit weer uit die modder te lig waar dit tans is vanweë ‘geërfde’ kwessies.
Sy het vertel dat munisipale amptenare in sekere van die diensleweringsdepartemente onlangs ‘n sitstaking gehou het en dat ander traag is om diens aan die publiek te lewer uit protes teen die nuwe veelpartyregering.
“Die meeste van die interne probleme wat ondervind word, word deur ANC-kaders en -moeilikheidmakers aangeblaas. Die opsetlike sabotasie van ‘n munisipaliteit wat reeds deur die vorige ANC-regering op sy knieë gebring is, is niks anders as krimineel nie.”
Die Gautengse LUR vir Plaaslike Bestuur het besoek gebring aan Mogale City en kon geen ongerymdhede met enige prosedure vind nie.
De Lange het verduidelik dat die veelpartyregering uit die DA, VF Plus en IVP bestaan wat in ‘n nasionale koalisieooreenkoms staan. Tydens die munisipale verkiesing in Augustus 2016 het die EFF hul stemme by die koalisievennote s’n gevoeg en daardeur die ANC onttroon.
“Dit is egter belangrik dat kiesers verstaan dat elkeen van die onderskeie partye steeds individueel staan en hul kiesers dien soos voorheen. Daar is slegs ‘n samewerkende ooreenkoms tussen die opposisiepartye wat die bestuur van die munisipaliteit aanbetref. Geeneen van die partye staan dus ondergeskik aan ‘n ander nie.
“Ons doelwit is om die onregmatighede, korrupsie en wanbestuur van die verlede uit te wis en seker te maak die belastinggeld word aangewend soos en waarvoor dit geoormerk is.
“Die Politieke Bestuurskomitee wat deur die vier partye verteenwoordig word, beraadslaag gereeld en daar word onder die huidige uitdagende omstandige gepoog om die munisipaliteit so goed moontlik te bestuur.”
Volgens De Lange vertrou hulle dat daar nou daadwerklike ingryping deur Gauteng Provinsie gaan wees om die munisipaliteit op sy voete te plaas sodat die veelpartyregering reg kan laat geskied aan sy inwoners.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Randfontein Herald, Roodepoort Record, Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
