Wanneer jy met die goue myl langs na Bekker-skole ry, kan jy nie die verwaarloosde Mogale City-burgemeesterswoning miskyk nie.
Die eertydse imposante huis is omring deur bossies en onkruid en het waarskynlik ‘n lekkende dak.
“Al wat nog aandui dat die eiendom aan die raad behoort, is die Mogale City-logo op die hek en die waghokkie waar menige ampsmotors stilgehou het. Hulle het dan deur die laning struike gery en voor ‘n groot uitgekerfde deur met sy Afrika-motiewe stilgehou.
“Van die prag en praal, vars waterstrome en mooi tuine waardeur oudpresident Kenneth Kaunda, ambassadeurs van Kuba, ANC-kaders en baie ander belangrike gaste gestap het, is niks oor nie,” het raadslid Tjaart Steenkamp, lid van Mogale City se burgemeesterskomitee gesê.
Hy beskou die Dan Tloome Estate, soos die woning amptelik heet, as ‘n sprekende bewys van die vorige plaaslike regering se onvermoë om hul eiendom te onderhou. Dit is jammer dat Paul Mashatile (ANC-voorsitter in Gauteng), nou die koalisie kwalik neem vir die ineenstorting van Krugersdorp.
“Die Dan Tloome-woning het uit die staanspoor slegte publisiteit ontvang. Eers is die woning ten duurste aangekoop en toe op aandrang van die destydse burgemeester, Lentswe Mokgatle, teen ‘n astronomiese bedrag opgeknap en gemeubileer. Na ‘n paar jaar het hy bedank en moes ‘n hofbevel verkry word om hom uit die huis te sit. Die voormalige burgemeester het net ‘n rukkie daar gewoon. Deur die jare is daar probeer om die landgoed op ‘n veiling te verkoop. Dit het nie geslaag nie.
“’n Raadslid woon glo in die huis en tot dusver kon geen huurkontrak opgespoor word nie. Intussen moet belastingbetalers vir dienste daar betaal. Indien die huis in sy huidige verwaarloosde toestand verkoop word, kan die raad sekerlik ‘n laer aanbod as die markwaarde verwag.
“Hierdie is weer ‘n sprekende voorbeeld van die ANC-regering wat nie die vermoë het om ‘n belowende dorp na wense te bestuur nie. Die nuwe koalisieregering bestaande uit die VF Plus, DA, IVP en EFF is besig om hard te werk om die foute van die verlede reg te stel,” het Steenkamp afgesluit.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at krugersdorpnews@caxton.co.za or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister websites:
Randfontein Herald, Roodepoort Record, Get It Joburg West Magazine
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!
