Brand laat inwoners in Kobie Krigestraat dakloos
Die brandweer het na bewering eers 'n uur later opgedaag.
‘n Gesin van vier se lewens het vroeg Sondagoggend onherroeplik verander toe hul huis en alles daarin aan die brand geslaan het.
Wyk 20-raadslid Lynnette Zwankhuizen het die News vroeg Sondagoggend ingelig oor ‘n brand in Kobie Krigestraat in Krugersdorp.

Die huis met sy herinneringe, versameling foto’s en kosbare meubels wat Charmaine Hattingh en Francois Backhoff oor ‘n tydperk van 10 jaar opgebou het, is alles deur die brand verwoes. Die inwoners beweer dat ‘n kers die oorsaak was van die brand wat om 1vm ontstaan het.

“My hart het saam met alles doodgebrand,” het Charmaine hartseer gesê.
Die inwoners het onmiddellik die brandweer gebel wat na bewering eers ‘n uur later opgedaag het. Die inwoners het die brand met grond probeer blus en ook probeer keer dat dit buite beheer raak. Toe die brand ontstaan het, was daar nege persone in die huis waarvan drie jong kinders was.
“My eerste prioriteit was om al die diere uit die huis te kry,” het Francois gesê.
Om 3vm was die brand geblus en die inwoners was moedeloos en stomgeslaan. Volgens Francois het hulle nie die finansies om die huis te herstel nie.
Die News het die plaaslike brandweer genader oor hulle beweerde swak reaksietyd.
“Ons het die oproep om 1.06vm ontvang en ons span het om 1.12vm by die toneel aangekom. Die vuur was om 1.42vm geblus,” het Elias Koloi, die uitvoerende bestuurder van Openbare Veiligheid gesê.

Hy het ook aan die News gesê dat hul reaksietyd in die dorp 10 minute is en dat dit in landelike gebiede 25 minute is.
Die familie het nie kos, klere, water of elektrisiteit nie en het die publiek se hulp nodig. Indien iemand die gesin kan help, kan hulle Charmaine by 072 201 9055 skakel.
Lees meer hier
Brand eis instrumente maar nie sy liefde vir musiek
Net ‘n wasgoedmandjie oor na verwoestende brand
