Editor's choiceLocal newsNews

‘n Nuwe wêreld van klank gaan oop vir Johanna

"Vir die eerste keer kon ek die mooi klanke hoor wat voëls maak."

Op 18-jarige ouderdom het Johanna Kapp reeds 200 operasies ondergaan en haar lewe lank gesukkel om te hoor.

Sy was slegs vyf jaar oud toe albei haar oortromme gebars het. Mense het egter gesê dat sy aansit en dat sy wel kan hoor, al was dit nie die geval nie. Sy het eers ‘n gehoorstuk gekry toe sy 20 was.

“Vir die eerste keer kon ek die mooi klanke hoor wat voëls maak,” het Johanna vertel.

Vanjaar sal sy haar 47ste verjaarsdag vier – met ‘n splinternuwe gehoorstuk.

Beltone en Monument Gehoorsentrum het ‘n splinternuwe gehoorstuk ter waarde van R9 000 aan Johanna geskenk.

Johanna ontvang haar splinternuwe gehoorstuk van Anzil van Jaarsveld.

“Ek was bereid om die gehoorstuk af te betaal, maar hulle gee alles gratis vir my,” het Johanna gesê.

Dit is vir haar ‘n groot seën en sy wil hê dat mense moet weet watter goeie daad die twee instansies verrig het. Haar huidige gehoorstuk, wat sy al nege jaar lank gebruik, is veronderstel om slegs drie jaar bruikbaar te wees. Sy het die toestel al verskeie kere vasgeplak en self reggemaak net sodat sy kan hoor.

Nadat sy die nuwe gehoorstuk ontvang het, het ‘n hele nuwe wêreld vir Johanna oopgegaan. Sy het aan die News vertel dat sy nie kan wag om die wind te hoor huil, die reën te hoor val en tussen stemme te onderskei nie.

Johanna het ook vertel dat wanneer sy nie haar gehoorstuk dra nie, sy op vibrasie en lippe lees staatmaak om te kommunikeer.

“Ek het skoon hoendervleis gekry toe Johanna haar gehoorstuk gekry het,” het oudioloog Anzil van Jaarsveld gesê.

Met trane in haar oë het Johanna vir Marna de Beer van Beltone, Anzil en die eienaar van die Monument Gehoorsentrum, Elize de Koker, bedank vir die ongelooflike geskenk wat hulle aan haar gegee het.

Sien die video hier:

Johanna wil graag ander aanmoedig om nie skaam te wees oor hul gestremdheid nie en om ook nie te gaan lê weens die gebrek nie. Sy kan nie wag om ‘n hele nuwe wêreld van klank te gaan ontdek nie.

Lees meer hier

Gestremdes kan maar gehoor vermaak

Gestremde ‘toor’ met sy sangstem

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button