‘Jacques’ is Pieter se goedvoel-naam
Die gemeenskap het hul harte teenoor die News uitgestort nadat Mnr Emmertjie opreg jammer gesê het.
“Ek weet hy klits sommige mense regtig op, maar onthou as hy jou vloek of beledig dan is dit eintlik ‘Pieter’ en nie die ‘Jacques’ wat ek ken nie,” het Willie van Eeden vir die News gesê.
Die gemeenskap se harte het oopgegaan nadat die News onlangs twee artikels oor Mnr Emmertjie of die Emmerman gepubliseer het. Die eerste artikel het gehandel oor wie hierdie persoon is en hoe hy mense ontstel wanneer hy hulle nader om hul motors te was. Kort na die eerste artikel gepubliseer is, het die News die man opgespoor en met hom gesels. Hy het om vergifnis gesmeek by die gemeenskap.
Tydens die News-onderhoud het die Emmerman genoem dat sy naam Jacques van Vuuren is. ‘n Groot aantal lesers het daarna aan die News bevestig dat sy werklike naam Pieter is en dat Jacques sy ‘goedvoel’-naam is. Hy gebruik glo die naam Jacques omdat sy regte naam aan soveel slegte herinneringe gekoppel is. Die gemeenskap het ook gevoel dat Jacques hulp nodig het en die eposse het ingestroom met verhale van sy goeie dade ten spyte van sy swaarkry. Sommige lede het wel negatiewe kommentaar oor hom gelewer, maar die stories wat ander vertel het, was hartroerend.
“Wat my beïndruk van die man is sy goeie woordeskat. Wat my egter stomgeslaan het, was toe hy vir my gesê het dat hy eintlik ‘n songwriter is. Hy het ‘n verflenterde boek vol liedjies wat hy geskryf het, uit sy sak gehaal. Hy kon my presies sê wanneer hy watter liedjie geskryf het en hoekom hy dit geskryf het. Sy gunsteling liedjies is sy love songs, soos hy dit noem. My hart gaan uit na hierdie jong man en ek glo dat as hy die regte hulp kry, hy uit hierdie gemors kan kom,” het Willie verder gesê.
“Ek het vandag ‘n bekende gesiggie op Facebook gesien. Amper het ek gedink die mannetjie is oorlede of iets het met hom gebeur, maar toe lees ek die ontstellende berig oor sy optrede. My eerste reaksie was ‘Nie hy nie!'” het ‘n hartseer Naomie van Witpoortjie geskryf.
“Ek het hom verlede Desember by ‘n verkeerslig gesien en hy was net so kwaai. Ons as Afrikaners help nie graag nie omdat ons weet hoe sleg die wêreld daarbuite is. Nie ‘n reuk aan die man van drank of rook nie, en oë so helder soos die sterre, so geen dwelms nie. Daar het ek besef die man is honger en sukkel. Mense, ek sou ook kwaad raak en vloek as ek probeer om kop bo water te hou,” het Francois Liebenberg gesê.
Francois het die News gevra vir Jacques se kontaknommer omdat hy hom graag weer wou sien.
Ten spyte van die negatiewe kommentaar teenoor Jacques in die News se vorige artikels, is hy ook alombekend as saggeaard en vir sy soms naïewe uitkyk op die lewe. Hy wil eintlik net die gemeenskap vermaak.
Ingeval jy dit gemis het, kyk gerus na Jacques se video hier:
Lees meer hier
Wie is die ’emmertjie’-man wat motoriste teister?
