Karwagte verdien vriendelikheid, dit kos tog niks
Maureen wil graag haar passie uitleef deur pasiënte te versorg.
Die son is skerp, die motors min, maar Maureen is vasbeslote om vanaand kos op die tafel te sit.
Maureen Last is 56 jaar oud en pas motors op om vir haar gesin van ses te voorsien. Sy was 20 jaar lank ‘n verpleegster voordat sy ‘n jaar terug as ‘n karwag geëindig het. Sy het aan die News vertel dat haar ouderdom teen haar tel om ‘n ordentlike werk te kry sodat sy behoorlik vir haar gesin kan sorg.
“Ek staan elke dag van 7.30vm tot en 5nm by ‘n besigheid in Krugersdorp-Wes en verdien ‘n karige R60 as ek die dag gelukkig is,” het Maureen gesê.
Die karwagte moet ook daagliks R15-R50 betaal aan die karwagmaatskappy deur wie hulle gehuur word. Wat Maureen egter die meeste ontstel is die feit dat die gemeenskap baie ongeskik is teenoor haar en dat hulle lelike kommentaar te lewer het oor haar werk, waarop sy baie trots is.
Sy het aan die News vertel dat sy elke besoeker vriendelik groet omdat dit goeie etiket is, maar dat die gemeenskap geen vriendelikheid teenoor haar toon nie. Wat haar ook ontstel is dat sommige mense vir haar geld uit hul motors gooi sodat sy dit moet optel.
“Sommige mense laat jou baie klein voel en dit breek jou moed,” het Maureen gesê.
Maureen wil egter graag haar passie uitleef deur pasiënte te versorg. Sy wil ‘n privaat pasiënt versorg en voel dat sy oor die nodige eienskappe beskik om die werk te kan doen.
Sy is gesond, netjies en voel dat haar hart en waardes op die regte plek is.
“Al wat ek vra is dat die publiek ‘n bietjie meer vriendelikheid teenoor my en ander karwagte sal toon en ons werk sal respekteer,” het Maureen gesê.
Lees meer hier
Johannes trek self die besem nader
Hawelose vriende mekaar se genade
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Randfontein Herald, Roodepoort Record, Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
