Hartseer dat net een besigheid reageer
"Dis is jammer dat net een besigheid uit 'n hele gemeenskap besluit het dat hulle 'n verskil in 'n behoeftige jongmens se skoolloopbaan wil maak."
Die News en Solidariteit Helpende Hand Gauteng-Suid het besluit om saam ‘n gemeenskapsprojek aan te pak. Einde Januarie is daar in die News daaroor berig en die gemeenskap is uitgedaag om te help.
Maar tot almal se teleurstelling het net een besigheid die uitdaging aanvaar en die daad by die woord gevoeg.
“Dis is jammer dat net een besigheid uit ‘n hele gemeenskap besluit het dat hulle ‘n verskil in ‘n behoeftige jongmens se skoolloopbaan wil maak,” het Janine Viljoen, redakteur van die News, gesê.
Solidariteit wil deur middel van sy Skryfgoed vir Kleingoed-program in samewerking met die News en die gemeenskap behoeftige leerders help met die skryfbehoeftes wat hulle in die nuwe fases van hulle skoolloopbaan nodig het.
Solidariteit het reeds ‘n projek wat tassies aan Graad 1’s verskaf, maar leerders in die ander 11 grade het ook ‘n ernstige tekort aan skryfbehoeftes.
Die Graad 7-leerling wat nie ’n wiskundestel het nie, die hoërskoolleerder wat nie ’n tekenbord kan bekostig nie – net die blote gebrek aan die basiese behoeftes soos potlode, uitveërs, skerpmakers, liniale, skryfboeke, sakrekenaars en so meer, kan vir die leerder ’n verleentheid word en ’n renons in skoolopvoeding laat ontwikkel.
Cariena Kriek en haar span by J van Zyl, Beyers & Rautenbach Inc het die uitdaging met ywer aanvaar. Die span het ses vyfliter-roomysbakke vol skryfbehoeftes gemaak en by die News se kantoor kom aflaai.
Hulle daag nou ander firmas uit om dieselfde te doen.
Hier is die uitdaging weer.
Alle besighede in die gemeenskap word uitgedaag om –
• ‘n besigheidskaartjie op die deksel van ’n roomysbak te plak
• die bak met skryfbehoeftes vir ’n laer- of hoërskoolleerder te vul. Dit kan selfs tweedehandse skryfbehoeftes wees
• dit by die News se kantoor op die hoek van Generaal Pienaarlaan en Hamstraat, Witpoortjie af te laai
“Ons gaan erkenning gee aan al die besighede wat die projek ondersteun,” het Adele Kruger, Streeksorganiseerder van Solidariteit gesê. “Help ons kinders om hul drome oop te skryf!”
Vir verdere inligting stuur ‘n e-pos na adele@helpendehand.co.za. Die projek sluit 31 Maart.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Randfontein Herald, Roodepoort Record, Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
