Nuwe leiers aan die stuur by Stapklub
Lu Ludik en Ronaldo Prinsloo nooi oud en jonk om saam met hulle te gaan stap.
‘n Paar nuwe gesigte het onlangs die leiding van die Krugersdorpse Stapklub by Babsie en Phillip Olivier oorgeneem.
Die klub, wat ‘n baie gewilde instelling in Krugersdorp is, gaan voort met hulle maandelikse staproetes en gaan weer op 11 Maart die roete Shelter Rock aanpak.
Die roete is op privaat grond geleë, omtrent 55km van hier af reg teen die Magaliesberg in die Skeerpoort-omgewing, net verby Hekpoort. Dit is werklik ‘n pragtige roete. Hulle stap teen die berg uit, tot op die kruin vanwaar mens selfs die mynhope (dié wat nog bestaan) van Krugersdorp op ‘n mooi skoon oggend kan sien. Die uitsig van die kruin af is asemrowend mooi; selfs ‘n gedeelte van die Hartebeespoortdam is sigbaar. Die stap op die kruin is ook baie gemaklik, en met die afstap rus stappers onder ‘n oorhangende rots, wat sommer die grot genoem word. Die afstap is plek-plek effens steil, maar nêrens is dit gevaarlik nie. Somtyds moet jy ook maar beur en klouter teen die hoë rotse uit, maar dit bied ‘n uitdaging aan elke volbloedstapper wat die natuur in al sy vorms liefhet – maar as jy daar uitstap op jou pad terug, sê jy vir jouself, “Ek kom beslis terug”.
Stappers braai ook gewoonlik na hierdie stap.
Lu Ludik en Ronaldo Prinsloo nooi oud en jonk om saam met hulle te gaan stap. Voorafbesprekings is noodsaaklik, dus moet stappers beslis laat weet of hulle die stap gaan meemaak. Die koste om die roete te stap is R70 per persoon.Indien jy belangstel, skakel vir Lu by 083 235 1958 of Ronaldo by 082 879 8795 of vir Teresa by 082 499 5678 vir meer inligting.
Lees meer hier
Staproetes vir die herfsmaande
