Daar is seker niks lekkerder as ‘n heerlike melkskommel, vermaak en ‘n inkopie-uitstappie by jou plaaslike winkelsentrum nie.
In die 1990’s en vroeër moes Krugersdorpers Roodepoort toe ry om hul maandelikse inkopies by die groot winkels te gaan doen, maar in die jaar 2000 het alles begin verander.
Vir dié week se Onthou jy nog … neem die News lesers terug na die beginjare van Key West Winkelsentrum. Vandag is dit sekerlik die gewildste sentrum in Krugersdorp en jy is amper gewaarborg dat jy ‘n bekende daar sal raakloop.
Ons reis terug na 2000:
In 2000 was die sentrum net ‘n prentjie in die Krugersdorp Nuus se 12 Mei-uitgawe. Die ontwikkelaars het groot planne gehad daarvoor en het beplan om dit een van die top trekpleisters in Gauteng te maak. Dit was toe ook een van die grootste winkelsentrums wat in die proses van ontwikkeling in Suid-Afrika was, met ‘n oppervlakte van 44 000 vierkante meter.

Die gemeenskap was baie opgewonde weens die vooruitsig dat dit 2 000 werksgeleenthede sou skep en ‘n sterk ekonomiese nodus in die area sou word. Dit sou bekend staan as die enigste waterfrontwinkelsentrum in Gauteng wat reg langs ‘n natuurlike meer ontwikkel is. Die gemeenskap was opgewonde om eende, eikebome en die natuur as deel van hul inkopie-ervaring te kon beleef. Wat die sentrum uniek en aanloklik gemaak het, was dat die publiek op die oewer van die meer kon piekniek hou en selfs hengel.

Vermaak wat beplan was:
• Agt fliekteaters
• ‘n Kegelbalarena
• ‘n Gesondheids- en raketklub
• ‘n Ysskaatsbaan
• ‘n Vlooimark
• ‘n Speletjiesarkade
• Top restourante
Dis die jaar 2017:
Vandag is daar winkelsentrums in Suid-Afrika wat heelwat groter as Key West is, soos Cradlestone Mall wat slegs nagenoeg 8,5km daarvandaan is. Gevolglik word Key West as ‘n relatief klein sentrum beskou.
Die sentrum lyk vandag ook aansienlik anders as in die beginjare en pronk tans met meer as 120 winkels. Die sentrum word steeds as ‘n gunsteling beskou wat deur oud en jonk besoek en geniet word. Die sentrum se oppervlakte is ook uitgebrei tot 58 907 vierkante meter. Sedert 2013 het die sentrum verskeie opknappings ondergaan wat meer winkels, ‘n groter gimnasium en ‘n beter onthaalarea ingesluit het. Die sentrum akkommodeer tans tussen 600 000 en 900 000 kopers per maand.

Unieke fasiliteite in die sentrum:
• Gratis skaatspark
• ‘n Amfiteater
• Kindersone
• ‘n Groot verskeidenheid winkels
• Vermaak
Wat die sentrum egter vandag ekstra spesiaal maak is die vermaak wat gereeld in die Amfiteater aangebied word. Vermaaklikheidsterre soos Juanita du Plessis, Die Heuwels Fantasties, Karlien van Jaarsveld en Locnville het al daar opgetree. Die amfiteater is ook vir sportliefhebbers ‘n groot bonus, omdat sport op die groot skerm gebeeldsend word.
Hoogtepunte van die sentrum:
• Die sentrum het op 28 Maart 2013 ‘n splinternuwe fliekteater geopen. Die dag was vir die hele span ‘n groot hoogtepunt, omdat 6 597 mense dié dag gratis kon fliek.
• In Augustus 2014 het die South African Council of Shopping Centres (SACSC) Footprint Marketing vir die sentrum die silwertoekenning gegee vir die konserte wat hulle aanbied.
• In Desember 2014 het die sentrum die bekende skaatspark bekendgestel. Die graffiti by die park is deur ‘n bekende Suid Afrikaanse graffitikunstenaar, Kevin Love gedoen.
• In Desember 2014 is alle opknappings in die kosafdeling asook by die veelvlakkige gimnasium voltooi.
• Die opknappings het ‘n groot aantal werksgeleenthede geskep.
Toekomsplanne vir die sentrum?
Daar is opwindende toekomsplanne om die sentrum groter en beter te maak. Die sentrumbestuur wou egter nie vir die News ‘n voorsmakie gee nie, maar het beloof dat groot opwinding op die kopers wag.
“Die gemeenskap se vereistes en behoeftes lê ons baie na aan die hart. Ons glo dat ons ‘n gemeenskapsentrum is wat die gemeenskap en omliggende kopers dien,” het Michelle Papastefanou, bemarkingsbestuurder an die sentrum gesê.
Lees meer oor Key West:
Key West Carols light up Krugersdorp’s heart
Die Heuwels was fantasties by Key West
Bobby van Jaarsveld by Key West
International superstars to headline Key West
Roof collapsed at Key West after hail storm
