Damesoggend bied emmers vol liefde
Die organisasie wil graag persone uitnooi om te begin brei en hekel om saam 'n verskil te maak.
“Ons kan almal op die een of ander manier ‘n verskil maak,” het stigter van Emmers vol Liefde, Betsie Stokes gesê.
Emmers vol Liefde is ‘n niewinsgewende organisasie wat minderbevoorregtes in nood help. Die organisasie is vyf jaar gelede gestig en het so gegroei dat hulle in Desember 2016 vir 400 mense in Krugersdorp kon kos gee.

Die organisasie se hoofdoel is om individue en gesinne te help wat nie andersins hulp kry nie. Hulle voorsien tans elke maand in die basiese behoeftes van 30 gesinne en 84 bejaardes. Hulle voorsien twee kleuterskole van kos, speelgoed, boeke en skryfbehoeftes. Hulle is ook betrokke by ‘n sopkombuis en verleen hulp by twee plakkerskampe in Krugersdorp. Die organisasie se lede wil ook graag betrokke raak by die mense in die gemeenskap.
Emmers vol Liefde kan egter nie so effektief funksioneer en so ‘n groot impak maak soos hulle graag wil sonder die publiek se hulp nie.
Betsie het aan die News vertel dat hulle gevind het dat daar verskeie gesinne in nood is as gevolg van beperkte inkomste en daarom sukkel hulle daagliks om kop bo water te hou.

Die organisasie het onlangs ‘n gholfdag met ‘n damesoggend gekombineer wat ‘n groot sukses was. Die funksie is deur 75 vroue bygewoon. Die inwoners van die Jack Cotton Tehuis in Krugersdorp-Wes wat deel vorm van die organisasie het onlangs met ‘n projek saam met Aret le Roux begin. Die inwoners het begin brei en met unieke en oorspronklike werk vorendag gekom. Van die produkte wat die inwoners gemaak het, is by die damesoggend verkoop. Die geld gaan gebruik word vir hulle projekte.
“Ek is geïnspireer deur die vroue wat hierdie dag en die projek moontlik gemaak het,” het Elbé Krause gesê.
Twee komberse is ook die dag opgeveil, wat vir aansienlike pryse verkoop is. Daar is ook ander produkte wat te koop is, indien die publiek sou belangstel.
Emmers vol Liefde wil graag persone uitnooi om te begin brei en hekel om saam ‘n verskil te maak. Hulle ontvang geen subsidies of toelaes van die regering nie en oorleef geheel en al op skenkings van private persone en maatskappye.
Hulle wil graag almal bedank, hetsy vir ‘n donasie, ‘n borg of selfs tyd wat gegee is om die damesoggend suksesvol te kon maak.
Persone wat graag ‘n direkte skenking aan die organisasie wil doen, kan die volgende inligting gebruik:
Naam: Emmers vol Liefde, Bank: Absa tjekrekening; Rekeningnommer: 4078299645; Takkode: 632005 met verwysing naam/ van of kontakbesonderhede. Vir enige navrae kan Betsie by 082 684 9974 gekontak word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
