Editor's choiceLocal newsNews

Bekende ontwikkelaar skryf sy lewensverhaal

Die boek bevat Huub se hele lewensverhaal – van sy geboorte tot nou.

Ongeveer 50 jaar gelede het ‘n bekende Krugersdorp-inwoner na Suid-Afrika geïmmigreer en kort voor lank het hy begin naam maak as een van die dorp se grootste ontwikkelaars.

Aangesien die pad verskeie uitdagings vir hom ingehou het, het hy besluit om ‘n boek daaroor te skryf.

Die boek bevat Huub se hele lewensverhaal – van sy geboorte tot nou. Hy vertel onder andere van sy dae as ‘n soldaat, die liefde van sy lewe, Suid-Afrika, sy drome en al sy projekte.

Al Huub Simons se prestasies is besonder merkwaardig aangesien hy slegs ses jaar skoolopleiding gehad het met meer as 50 leerders in een klas.

“Ek het altyd deur die klasvenster gekyk na die manier waarop nuwe geboue opgerig word. Dit was vir my bitter moeilik om op te let in die klas omdat die bouery my so verskriklik geïnteresseer het,” het hy vertel.

Daarna het hy begin werk en deur saans te studeer het hy ‘n vyfjaarkursus voltooi wat hom in staat gestel het om sy droom uit te leef. Volgens Huub was hy elkeen van daardie vyf jaar die student wat die tweede beste in die groep presteer het.

“Dit het alles neergekom op goeie dissipline. Ek het elke aand met my fiets gery al het dit gereën of gesneeu,” het hy vertel.

As gevolg van die destydse werkskaarste in sy geboorteland het Huub en sy vrou, Liesbeth met niks anders as “baie moed en baie krag” in 1967 per boot vanaf Tilburg, Nederland na Suid-Afrika gereis.

Hy het hul eerste huis in Hamstraat in Witpoortjie gebou en daarna na Krugersdorp verhuis waar hy talle projekte ontwikkel het.

Van sy projekte sluit in die luukse Simonszicht-meenthuise in Kenmare, die Jeromi Cluster-meenthuiskompleks in Robert Broomrylaan, die Noordheuwel-winkelsentrum, Sorento-meenthuise en De Wetshof-meenthuise in Krugersdorp-Noord.

Hy is tans op soek na ‘n vertaler om sy boek wat hy in Nederlands geskryf het, in Afrikaans te vertaal. Hy wil graag die boek in Nederland en in Suid-Afrika uitgee om iets van homself vir sy nasate na te laat.

“Ek wil hê hulle moet oor my lewe lees, en my onthou,” het Huub gesê.

Huub is inderdaad ‘n nederige Nederlander wat baie potensiaal in die weste van Krugersdorp sien.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button