Toe nou nie so hardekwas nie
Meer as 1 000 blikkies kos is dié dag ingesamel.
Meer as 20 motorfietsklubs van Krugersdorp en omstreke het onlangs die hardekwas-stigma afgeskud toe hulle op 4 Augustus tydens ‘n potjiekoskompetisie meer as 1 000 blikkies kos vir die Wes-Randse Bikers Kerk bymekaar gemaak het.
Die kos is vir die minderbevoorregte gemeenskapslede van Krugersdorp ingesamel en sal oor ‘n tydperk aan dié wat dit bitter nodig het, uitgedeel word.

Die potjiekoskompetisie het vroeg afgeskop en teen 12 uur het allerhande geure in die lug by Milkwood Bush Pub in Burgershoop gehang.
Daar was nie net die gewone beespotgeure nie. Daar was ook seekos-, biltong-, afval- en Maleisiese geure wat uit die pruttende potjies aangesweef gekom het.
Die top drie potjies van die dag was die handewerk van Anchor Riders, Dead Men Riding en Hoodlums. Die Anchor Riders se smullekker potjie het egter die beoordelaars se tonge laat saamstem dat hulle die wenners moes wees.
Whicked Wheels het die Geesbeker gewen.
Die kompetisie is saam met die bekende radiostasie Bosveld Stereo aangebied en was deel van hulle Blikkiesfees-projek.
Hulle het 1 000 blikkieskos aan die projek geskenk.
Die hoogtepunt van die dag was nie noodwendig een item nie, maar om as biker-broers en -susters bymekaar te wees.
“Ons is ‘n brotherhood. As jy bike ry, is jy familie, maak nie saak van bloed nie.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
