Vrywilligers kry nuwe voorkoms
Die vroue se hare, naels en grimering is gedoen – vir sommiges was dit die heel eerste keer.
Vrywilligers word nie betaal nie – nie omdat hulle waardeloos is nie, maar omdat hulle nooit na waarde vergoed kan word nie. Dit gebeur dikwels dat hulle hul eie behoeftes op die agtergrond skuif om in die behoeftes van dié wat dit nodiger het, te voorsien.
Dit is waarom Mug and Tree Gemeenskapsentrum se hoof, Estelle Opperman dit goed gedink het om drie van hul sewe vrywilligers, asook stigter en raadslid Trudie Naudé vir ‘n dag te laat bederf.

Op Maandag, 7 Augustus is dié dames behoorlik gepamperlang toe hulle met ‘n oormaaksessie by Hair @ Maria’s in Wilropark getrakteer is. Die vroue se hare, naels en grimering is gedoen – vir sommiges was dit die heel eerste keer.
“Ek wou hulle bederf vir Vrouedag, net om dankie te sê. Hulle is elke dag getrou by die werk, en aangesien hulle vrywilligerswerk doen, het hulle nie altyd die middele of tyd hiervoor nie,” het Estelle vertel.

Daarna het elkeen ‘n geskenkpakkie van Monument Toyota Constantia ontvang, asook ‘n heerlike ontbyt wat die Toyota Knights-groep geborg het.
Nog ‘n rede vir Estelle se geskenk aan die dames is dat haar ontslape ma dié dag sou verjaar het.
“My ma het my van kleins af geleer dat ‘n dame altyd netjies moet vertoon en moeite moet doen met haar voorkoms,” het sy gesê.
Aangesien Maria, The Make-Up Bunny en Charmaine Heyneke goedgunstiglik vir die dag se bederfies gesorg het, sal die res van die vrywilligers eers later aan die beurt kom.

“Dit was vir my ‘n voorreg om dit vir hulle te kon reël. Ek sal net graag meer gereeld meer van die vroue in die gemeenskap wil help,” het sy vertel.
Die groepie het werklik met ‘n nuwe voorkoms en ‘n tweede asem by die salon uitgestap.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
