Het Mogale ‘n sakrekenaar nodig om waterverbruik te bereken?
Belaglike waterrekeninge van meer as R62 000 vir 'n huishouding van drie tot 'n liefdadigheidsorganisasie met 'n rekening van meer as R45 000. Krugersdorpers het vrae.
Die afgelope twee maande het die News meer as 30 klagtes oor foutiewe munisipale rekeninge gekry.
Dit het gewissel van buitensporige waterrekeninge tot vergesogte elektrisiteitsrekeninge, en ten spyte daarvan dat daar alreeds klagtes per epos ingedien is, is nie een van hierdie probleme al opgelos nie.
Lees meer: Excessive municipal bills – the way forward
Reinette van der Swan het ‘n jaar gelede ‘n waterrekening van R152 890,86 gekry. Sy beweer dat haar rekening nog nooit R360 per maand oorskry het nie.
Al het sy die probleem talle kere aangemeld, het sy twee finale aanmanings gekry en is gedreig dat die watertoevoer afgesny gaan word. Sy het verskeie vrae aan Mogale City gestuur om te hoor wat die probleem was, maar sy het geen terugvoering gekry nie.
“Daar is gesê my meter het gespring en dat dit vervang moet word. Dit is nie gedoen nie. Intussen het my rekening net hoër en hoër geword. Rente en admingelde is bygesit en natuurlik belasting ook.”
Sy is gelys as ‘n “onwettige waterverbruiker” en daar is ‘n beperking op haar watermeter gesit. Sy het ook ‘n prokureursbrief gekry. Uiteindelik na byna ‘n jaar se gesukkel het Mogale City haar rekening in Januarie reggestel.
Meer onlangs het Yvonne Abourizk op Facebook vertel dat sy ook ‘n buitensporige rekening ontvang het.
“Wat gaan aan met Mogale City, oral kla mense oor rekeninge?” het sy in ‘n plasing gevra. “Ek’t ook ‘n rekening van R62 356 gekry en my krag is gestaak nadat ek seker ‘n duisend navrae gedoen het.”
Sy wou weet hoe slegs twee mense wat krag gebruik, so ‘n groot rekening kan kry.
In ‘n ander plasing het Leneldi Moolman gevra hoe dit moontlik is dat sy ‘n R5 800-waterrekening kon kry. “Ons maak nie eers die tuin nat nie,” het sy bygevoeg.
Koos Pretorius het ook al talle eposse na die amptelike eposadres vir rekeningprobleme gestuur, maar het tot dusver geen terugvoering gekry nie. In sy epos het hy die volgende gevra: “Please furnish me with the details of how the amount of R22 178,77 has been calculated, if the outstanding amount is deemed to be for my correct water meter”.
Dis nie net gemeenskapslede wat met hierdie rekeninge ‘winduit geslaan’ word nie. The Bethany House Trust, ‘n plaaslike kinderhuis in Monument, het selfs ‘n waterrekening van R45 808,40 gekry.
Lees ook: Tax-payers on West Rand paying for mismanagement
Municipal Complaints, ‘n plaaslike maatskappy wat gemeenskapslede teen betaling help om hulle munisipale rekeninge reggestel te kry, het lig op die saak probeer werp. Volgens hulle is daar drie moontlike redes hoekom iemand skielik ‘n hoë rekening kry:
• Bedrae word te hoog geskat op grond van vorige geskatte lesings
• Daar is ‘n fout op die rekening
• Daar is ‘n waterlek op die perseel
Nkosana Zali, skakelbeampte van die munisipaliteit, is in Julie gekontak maar het geen terugvoering oor enige van die vrae gegee nie.
Die nuwe rekeningsisteem wat die voormalige burgemeester, Michael Holenstein geimplementeer het, is glo geskrap en die nuwe burgemeesterskomitee gebruik weer die ou sisteem.
Gemeenskapslede raak al hoe vieser vir die munisipaliteit en sê dat die verskoning dat daar weer ‘n nuwe burgemeesterskomitee is, nie meer geldig is nie.
Intussen hoop die hoë rekeninge op en die stilswye van die rekeningedepartement maak hulle al hoe angstiger.
Dit is wat jy kan doen:
• Daar is ‘n eposadres waarheen gemeenskapslede hulle klagtes oor rekeninge kan stuur. Stuur jou besonderhede na billingissues123@gmail.com. Gee jou meternommer in die onderwerpreël.
• Op die webtuiste Hunter Water is daar ‘n funksie waar mens jou besonderhede kan invul en ‘n skatting kan kry van die hoeveelheid water wat jy in ‘n jaar gebruik.
• Skakel jou raadslid om uit te vind hoe julle die rekeningprobleme kan oplos. Jou DA-wyksraadslid se nommer is te kry.
• Municipal Complaints bied hulp met munisipale rekeninge teen betaling.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at krugersdorpnews@caxton.co.za or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister websites:
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!
