Almal is familie vir My Family
Vyf Burgershoop pensionarisse is behoorlik bederf met ‘n heerlike ontbyt by Panarottis Key West.
Vrouedag is ‘n dag waarop vroue regoor die land waardeer moet word vir die uiters belangrike rol wat hulle in die lewens van dié rondom hulle speel – maak nie saak of dit ‘n suster, ma of vrou is nie.
Dit is juis wat My Family – ‘n niewinsgewende organisasie wat sorg vir minderbevoorregte kinders en bejaardes in nood – gedoen het op dié spesiale dag.

Op Woensdag, 9 Augustus is ongeveer vyf pensioenarisse van Burgershoop behoorlik bederf met ‘n heerlike ontbyt by Panarottis Key West.
Wayne Muller, een van My Family se vrywilligers, glo dat daar talle plaaslike vroue is wat soveel tyd en energie aan hul families bestee dat hulle soms vergeet om na hulself ook te kyk.
“Hulle het die dag verskriklik geniet en dit was so lekker om te sien hoe hulle aan die kos smul terwyl hulle saamkuier,” het Wayne vertel.
Aangesien die organisasie nog net drie maande aan die gang is, is dit hul eerste Vrouedag saam met die gemeenskap. Hulle beplan egter om in toekoms dieselfde vir plaaslike pensioenarisse op dié dag te doen.
Elkeen van die dames het ook na die geleentheid geskenkpakkies ontvang met verskeie produkte soos room, poeier, waslappe en sjokolade.

“Ons is baie dankbaar vir almal wat die oggend moontlik gemaak het, en ons sal graag elke jaar dieselfde wil doen,” het vrywilliger Robbie Kellie vertel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
