Noordskool-revue bewys die gras is groener hier
Die hoofkarakters het London toe gegaan vir hul oorbruggingsjaar, maar het gou besef hoe erg hulle Suid-Afrika mis.
Laerskool Krugersdorp-Noord het onlangs hulle jaarlikse revue aangebied. Daar was ses vertonings van die glansryke skouspel.
Die tema was, As die gras groener is en het gehandel oor ‘n groep tieners wat na matriek London toe vertrek vir hul oorbruggingsjaar. Sommiges het gaan werk terwyl ander rugby gespeel het. Die groep het in ‘n groot huis tuisgegaan wat voorheen ‘n kasteel was.

Foto: Bianca Pindral
Hulle was aanvanklik baie opgewonde, maar het gou begin huis toe verlang toe iemand ‘n CD met Suid-Afrikaanse musiek in die ou kasteel begin speel het. Die dansers uit elke graadgroep het op bekende treffers soos Hoezit my Tjomma, Kaalvoetkind en Hardekool gedans.
Die toneel eindig waar die verlange huis toe die tieners laat terugkeer Suid-Afrika toe. Die toneel is propvol skerp humor met hier en daar ‘n tikkie sarkasme.

Foto: Bianca Pindral
“Mens kon tydens die voorbereiding en uitvoering van die stuk sien hoe die leerders se selfbeeld verbeter en hul selfvertroue toegeneem het,” het Christa Rossouw, een van die onderwyseresse gesê.
Tydens ‘n kort pouse gedurende die laaste vertoning het sy die organiseerders bedank en gesê die personeel, leerders en ouers het fantasties saamgewerk om die revue ‘n sukses te maak.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
