Nóg ‘n vragmotor slaan om in Krugersdorp
"Die hoeveelheid swaarvoertuigongelukke in die Mogale City-omgewing het drasties toegeneem."
‘n Tweede vragmotorongeluk het in Krugersdorp plaasgevind, net twee dae na die vorige een.
Maandag, 14 Mei, het ‘n vragmotor se remme gefaal en in voertuie in die Pinehaven/ N14-kruising ingeploeg. Een van die voertuie was ‘n Schwepps-koeldranktrok wat in die middel van die kruising tot stilstand gekom het.
Lees meer hier: [BREAKING NEWS – WATCH] It’s raining Schweppes and samp at Pinehaven intersection
In Rustenburgweg in Krugersdorp-Wes by die kruising op pad Magaliesburg toe het nog ‘n vragmotor wat koeldrank vervoer, omgeslaan.
‘n Vryheidsfront (VF) Plus-afvaardiging het ‘n paar maande gelede ‘n dringende vergadering gehad met Ishmael Vadi, Gautengse Lid van die Uitvoerende Raad vir Vervoer om die kwessie van die beoogde oorbrug by die N14/ Pinehaven-kruising te bespreek. Vadi het beaam dat die kwessie uiters dringend is, maar dat regsprosesse weens ongerymdhede met die tenderproses die projek knou.
Onopgeloste administratiewe kwessies regverdig nie moontlike lewensverliese nie en die VF Plus hou die owerhede aanspreeklik vir die hoë ongeluksyfer by die betrokke kruising.
Volgens Amanda de Lange, VF Plus-raadslid wat Maandag op die toneel was, is dit ‘n wonderwerk dat niemand met hul lewens geboet het nie.
Die superleunwatrok wat in Rustenburgweg omgeslaan het, laat ook die vraag ontstaan rondom spoedbeheer by swaarvoertuie.
“Die bestuurder van die vragmotor wat koeldrank vervoer het, het om die draai beheer verloor en omgeslaan. Dit is net genade dat daar nie ander verkeer betrokke was nie aangesien die trok in die aankomende verkeer se baan gelê het.
“Die hoeveelheid swaarvoertuigongelukke in die Mogale City-omgewing het drasties toegeneem. Magaliesburg is vir jare reeds ‘n brandpunt oor die hoeveelheid swaarvoertuie wat daar in ongelukke betrokke is. Verkeer- en spoedbeheermaatreëls moet drasties opgeskerp en toegepas word,” het De Lange gesê.
Sy het verduidelik dat die Magaliesburg/ Krugersdorp-paaie hoofroetes vir swaarvoertuie na Noordwes-provinsie en Botswana is, hoewel dié paaie nie ontwerp is om sulke swaar verkeer te dra nie.
“Die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer, en plaaslike owerhede sal uiters dringend aandag aan die situasie moet gee,” het sy beklemtoon.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at krugersdorpnews@caxton.co.za or phone us on 011 955 1130.I
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister websites:
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!
