Worshond gered na sy in gat val
"Die dam kry gereeld besoekers wat kom visvang en ontspan. Ek het gedink dat dit ook 'n lekker uitstappie vir ons hondjies sou wees."
Cas Cloete neem graag sy honde op gereelde uitstappies. Maar uitstappie op Sondag, 1 Julie het egter vinnig in ‘n nagmerrie ontaard.
Volgens Cas is hulle na die dam langs Van Oordtstraat in Noordheuwel toe.
“Die dam kry gereeld besoekers wat kom visvang en ontspan. Ek het gedink dat dit ook ‘n lekker uitstappie vir ons hondjies sou wees,” het hy vertel.
Daar het hy egter die grootste skok van sy lewe gekry.
“Die twee honde het sonder hul leibande geloop toe die een, Tiny, skielik in die grond in verdwyn het,” het Cas gesê.
“Ek het vinnig soontoe gehardloop en toe ek daar kom, het ek ontdek dat sy in ‘n gat van sowat ‘n meter diep tussen die lang gras ingeval het.”

Hy het verder verduidelik dat ‘n horisontale tonnel uit die bodem van die gat lei. Hy het dadelik die mense wat daar gehengel het, geroep om hom te help.
“Hulle het my gehelp en ek is kop eerste in die gat af. Ek het vir Tiny geroep maar sy het nie geantwoord nie. Sy was in die horisontale tonnel in,” het hy verduidelik.
Lees ook: NSPCA rescuers risk their own lives to save trapped doggy
“Na ‘n baie lang geswoeg, gesweet en gesukkel het ons haar daar uitgekry. Ek is so dankbaar ons kon haar red. As ek haar nie fisies gesien inval het nie, sou ek dalk aangeneem het dat sy weggehardloop het.”
Cas doen nou graag ‘n beroep op alle diereliefhebbers om vooraf seker te maak dat die plekke waarheen hulle hul diere wil neem, troeteldiervriendelik is.
“Ek weet nie wat ek sou gedoen het as ek haar nie sien inval het nie, of as sy sou vassit nie. Sy is so na aan ons harte en ons is so bly sy is veilig. Ek sal niemand daardie ervaring toewens nie.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
