Editor's choiceLocal newsNews

Plaaslike kunsvlyter wen kompetisie

Dié werklikheidsreeks het uit 10 deelnemers bestaan wat hul kreatiwiteit moes inspan om dit uit te spook met verf, kwasse, klei, mosaïek, papier en enige ander denkbare voorwerp.

Danksy haar vlytige vingers het niemand anders nie as Melissa Vorster onlangs as die wenner van die bekende kykNET-program, Kunsvlyt 2 weggestap.

Tien persone het aan dié werklikheidsreeks deelgeneem. Hulle moes hul kreatiwiteit inspan om sake met verf, kwasse, klei, mosaïek, papier en enige ander denkbare voorwerp uit te spook.

Die reeks is van 6 April tot 29 Junie gebeeldsend en het bestaan uit verskillende uitdagings.

“Elke episode was ‘n nuwe uitdaging. Van fotojoernale tot kranse tot handpoppe en alles tussenin. Dit wat die kykers op hul televisies gesien het, was presies hoe dit agter die skerms was,” het sy vertel.

“Jy stap in en ontvang ‘n opdrag wat in ‘n gegewe tyd voltooi moes word. Daar is geen ekstra tyd of pouses tussenin nie. Jy kry presies 15 minute om te beplan en presies 10 minute in die ‘winkel’ om al jou benodigdhede bymekaar te maak. Daarna is dit net jy en jou plan.”

Volgens Melissa is hul eindprodukte volgens verskeie kriteria beoordeel, onder meer kleurkombinasie, tekstuur en diepte, begrip en kennis van mediums en toerusting, probleemoplosvermoë, professionaliteit en verkoopbaarheid, oorspronklikheid, gebruik van nuwe vaardighede en produkte asook die finale produk.

‘n Beloning vir elke episodewenner het ook gesorg vir strawwe kompetisie.

“Met so ‘n intense merkproses was dit ongelooflik spanningsvol, met konstante druk. Alhoewel jy jouself toets, was dit ook lekker om die ander deelnemers se kreatiwiteit en denkprosesse waar te neem,” het sy gesê.

Nadat Melissa haar as ‘n bobaas-deelnemer bewys het, het een van die beoordelaars selfs haar strategie die ‘Melissa Effek’ gedoop. Dié effek beskryf die konsep van deurlopende oorspronklike idees asook die deurlopende gebruik van ‘n verskeidenheid mediums.

“Ek wou iets doen wat buite my gemaksone is en ek is so bly ek het. Dit het my soveel kennis in die sak gebring. Dit was sowaar die belewenis van ‘n leeftyd,” het sy gesê.

Alhoewel sy groot opslae gemaak het in handwerkkringe meen Melissa dat sy graag wil fokus op kinderpartyjies en dekor.

“Ek sal graag my kreatiwiteit wil uitleef in kinderpartytjies en soortgelyke projekte. Daarmee saam wil ek graag aanhou leer en meer eksperimenteer,” het sy vertel.

Sy het belowe dat haar aanhangers nog nie die laaste van Melissa gesien het nie aangesien haar volgende droom is om ‘n handleiding te skryf oor elke aspek van kinderpartytjies.

Indien jy meer wil sien en lees oor Melissa en haar reis, besoek gerus die Kunsvlyt – kykNET-blad op Facebook.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button