Sien Nories in ATKV-Tienertoneel
Nories ding mee in 'n splinternuwe afdeling van die ATKV-Tienertoeneel.
’n Splinternuwe afdeling vir ’n hele Tienertoneelgeselskap – van die regisseur, skrywer, spelers en die tegniese operateurs – wat uit slegs hoërskoolleerders bestaan.
Hierdie nuwe afdeling in die ATKV-Tienertoneelkompetisie gee leerders die kans om volkome aan die stuur van sake te wees en hul eie toneelstukke – van die skryfproses tot waar dit op die planke gebring word – self en onafhanklik te skep.
Uit die 23 toneelstukke wat in hierdie kategorie meegeding het, is vier gekies om vanjaar tydens die finaal van die ATKV-Tienertoneelkompetisie by die Roodepoort Teater hul slag te wys.

Die leerders het met uitsonderlike produksies vorendag gekom wat onder meer ernstige kwessies insluit: die realiteit van die teaterbedryf; mensehandel; verhoudings wat tragies sneuwel; en kommentaar op sosiale kwessies.
Een van die vier toneelproduksies is Hoërskool Noordheuwel se Tot die dood ons skei – geskryf deur Arno Botha. Dit gaan die gehoor lank ná die tyd nog laat peins oor die lewe en hul bestaan. In dié toneelstuk het Johan Faust ’n vooropgestelde droom van hoe die lewe moet lyk.
Maar dié droom word deur ’n nagmerrie besoedel – een wat hom vanuit die werklikheid dreig. Jessica Getchen vind die perfekte ou, maar dit gaan gepaard met ’n noodlottige fout – een wat haar meer sal kos as wat sy sou kan raai.

Nagenoeg 3 500 hoërskoolleerders het deelgeneem aan die 195 produksies tydens die 11 ATKV-Tienertoneelstreeksfeeste en 19 produksies (insluitend die vier slegs-leerder-produksies) sal van 1 tot 5 Oktober by die Roodepoort Teater meeding.
Tot die dood ons skei is op 1 Oktober op die planke en nog ‘n Norie produksie, Annamaria Davidtz van Dikdaan van Diepgezet kom op 3 Oktober aan die beurt.
Beide hierdie toneelstukke het deurgedring na die finaal. Annamaria van Dikdaan van Diepgezet het ook deurgedring na die finaal van die Atterbury Trust Pronk Podium wat op 6 Oktober by Aardklop plaasvind.
Die wengroep ontvang R30 000, die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee en ’n speelvak tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees van 2019. Die naaswenner ontvang R20 000. Die toneelgroep wat in die derde plek aangewys word, ontvang R10 000. Die beste produksie deur slegs leerders ontvang ‘n prysgeld van R10 000.
Van 1 tot 4 Oktober begin die program elke aand om 5nm, en vier tot vyf produksies sal aangebied word. Kaartjies kos R100.
Op 5 Oktober sal die vyf topproduksies vanaf 5nm op die verhoog wees. ’n Kaartjie sal jou net R150 uit die sak jaag.
Die prysuitdeling vind op 6 Oktober om 10vm in die UJ Tteater plaas en is slegs vir die deelnemers.
Kaartjies is by www.webticket.co.za, die Roodepoort Teater of enige Pick n Pay met Webticket-fasiliteite beskikbaar.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
