#16DaevanAktivisme — Vrou onthou hoe sy ‘n jaar terug moes veg vir haar lewe
Sy was te skaam om haar familie te vertel van al die dinge wat hierdie man aan haar doen.
*Susan is ‘n fyn vroutjie met letsels van ‘n lelike ervaring.
In die lig van die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders-veldtog (wat van 25 November tot 10 Desember is) het Susan haar verhaal van mishandeling aan die News vertel.
Dit is nou amper ‘n jaar nadat sy wreedaardig aangeval en amper doodgemaak is deur *Kobus.
Nadat hulle ‘n rukkie saam gekuier het, het hulle ooreengekom om saam in te trek. Dit was bloot gerieflikheidsonthalwe.
Na twee maande het die twee een aand woorde gehad en Kobus het haar aan die nek gegryp. Vir haar het dit gelyk of hy haar wou wurg.
Na daardie aand het die verhouding vinnig versleg en hulle het gereeld baklei.
Lees ook:
https://www.citizen.co.za/krugersdorp-news/346884/abused-victim-tells-story-of-her-road-to-redemption/
Susan het verduidelik dat hy haar begin seermaak het, maar altyd daar waar dit nie merke laat nie. Hy sou haar knyp en slaan, en soms so hard druk dat dit blou kolle veroorsaak. Hy het haar met vuurwapens gedreig en haar een aand op die bed neergegooi en haar met die vuis op die stuitjie geslaan.
Sy het nie haar familie en kinders hiervan vertel nie want sy was skaam. Sy was reeds in haar 70’s en hy was net ‘n rapsie ouers as sy.
Vyf jaar het verbygegaan en Susan het maar geleer om daarmee saam te leef en dit weg te steek.
Maar op Kersoggend verlede jaar toe sy en Kobus van die kerk af tuisgekom het, het sy nooit gedink dat sy teen die einde van die dag sou moet veg vir haar lewe. ‘n Dag van stry en baklei het geëindig waar Kobus agter haar gestaan met ‘n groot kombuismes in sy hand. Sy het haar hand uitgesteek om hom te probeer keer en die lem het haar hand gesny.
Tydens ‘n stoeiery het hy haar keel raakgesny en aangehou probeer om dieper te sny.
Haar kleinseun, wat langs hulle gebly het, het die bakleiery gehoor en in die huis probeer inkom.
Hy het oor die muur gespring maar die veiligheidshek het hom gekeer.
Susan het losgekom en kon die voordeursleutel by haar kleinseun uitkry. Hy het dit oopgesluit en haar buite toe geneem.
Kobus het Susan se lugpyp afgesny maar het gelukkig nie haar slagare raakgesny nie.
Sy het nege dae later in die intensiewesorg-eenheid van die hospitaal bygekom. Dit was merkwaardig dat sy steeds kon praat.
Kobus het homself probeer beseer terwyl paramedici besig was met Susan en het ‘n dag in die hospitaal spandeer. Na sy arrestasie het sy dogter sy borggeld betaal en was hy weer terug in die samelewing. Susan het vertel dat die hofsaak elke keer uitgestel word en sy is al moedeloos.
Susan het gesê dis vir haar moeilik om te begryp dat dié man met sy lewe kan voortgaan asof niks gebeur het nie, maar sy dra swaar aan die fisieke en emosionele letsels. Sy sukkel om haar hand te gebruik en kan nie meer haar nek draai nie.
Sy het hom onlangs by ‘n kerkbyeenkoms raakgeloop en die volgende dag was hy weer by ‘n byeenkoms waarheen sy veronderstel was om te gaan.
As daar teenoor jou of iemand wat jy ken gewelddadig opgetree word, moet dit gerapporteer word – hoe gouer, hoe beter.
Vir meer inligting oor die veldtog en hoe om betrokke te raak of hoe om iemand in nood te help, besoek https://www.gov.za/16DaysofActivism2018.
* Susan en Kobus is skuilname.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
