[KYK] Frikkie die knopknieë donkie steel talle harte
Nadat die 9th Day Animal Shelter amper moed verloor het, kon hulle iemand kry om Frikkie die donkie se been reg te maak.
‘n Paar maande gelede het die span van die 9th Day Animal Shelter die vyf uur lange pad aangedurf om ‘n miniatuur donkie te gaan haal. Sy eienaar wou hom nie meer hê nie omdat hy knopknieë gehad het.
Wat dié span daardie dag nog nie geweet het nie was dat hy soveel liefde vir hulle sou bring en dat ‘n besondere pad vir hulle voorgelê het.
Al was die donkietjie aanvanklik ‘n bietjie skrikkerig, het hy na ‘n paar dae begin gewoond raak aan die liefde en drukkies wat hy elke dag ontvang het.
Hoewel Frikkie gelukkig gelyk het, het hy minder begin rondloop en meer begin lê. Dit was duidelik dat ‘n knop aan sy linkervoorpoot begin vorm het en dat dit pyn veroorsaak het.
Hulle is met Frikkie na ‘n veearts toe en is ingelig dat hy ‘n operasie sou moes ondergaan om sy poot weer in lyn te bring. Die kwotasie vir dié operasie was R58 000 – ‘n bedrag wat niemand kon bekostig nie.
Daar is besluit om Frikkie na die Onderstepoort Veeartsenykundige Akademiese Hospitaal se perdekliniek te neem om ‘n tweede opinie te kry.

Foto verskaf.
Die nuus was nie beter nie maar tog kon hulle die prys so ‘n bietjie afbring tot R25 000. Frikkie was nog net ‘n jaar oud en die operasie was noodsaaklik, daarom was dit beter om die poot reg te maak terwyl hy nog jonk was.
Die span by Onderstepoort het bestaan uit dr Mickaël Robert en ‘n span sesdejaarstudente.
Charmaine het vertel dat die span so goed na Frikkie omgesien het. Hulle het hom orals rondgedra en almal het gekom om Frikkie te ontmoet en liefde te gee.
Twee weke gelede is Frikkie geopereer. Hulle moes penne in sy been sit om die been weer reguit te maak, maar die moeilike deel was darem verby en Frikkie moes net gesond word.
Hy sal vir eers elke twee weke moet teruggaan vir nuwe verbande en moet vir die volgende drie maande op ‘n staalvloer bly sodat die penne in sy poot in posisie kan bly en die poot reg kan aangroei.
Volgens Charmaine het Frikkie ‘n persoonlikheid wat hom diep in enige iemand se hart laat inkruip, maar hulle het besluit om hom nie vir aanneming beskikbaar te stel nie. Hy sal die organisasie se eie plaaslike miniatuurdonkie wees.
Die News het by Frikkie gaan kuier en is voorgestel aan sy miniatuurperdemaatjies aan wie hy blykbaar baie geheg geraak het.

Foto verskaf.
Daar is tot dusver R4 419 ingesamel om die koste van Frikkie se operasie te dek, dus moet hulle nog R19 113 in die hande kry. Indien jy kan en wil help deur ‘n donasie te maak, kan die geld inbetaal word in die FNB-tjekrekening, rekeningnommer 625 710 16825, takkode 250 655, verwysing: Frikkie. Charmaine het gesê dat elke bietjie help en dat selfs R10 nie te min is nie.
https://www.facebook.com/the9thday/videos/598963203868824/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
